Central SA
Vrystaatse polisie soek gewapende mans ná rooftog op Warden-plaas─── ZENANDE MPAME 12:54 Tue, 12 Aug 2025

Die Vrystaatse polisie het ’n 72-uur-aktiveringsplan van stapel gestuur om verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem ná ’n gewapende rooftog op ’n plaas in die distrik Warden.
’n Groep gewapende mans het die slagoffer (68) omstreeks 02:15 Dinsdagoggend (12/8) oorval toe hy op pad was na Gauteng, sê kapt. Loraine Earl, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Luidens berigte het die verdagtes die slagoffer na bewering aangerand, hom met ’n tou vasgebind en hom van kontant en vuurwapens beroof voordat hulle met sy wit Mahindra-bakkie van die toneel gevlug het.
“Die voertuig is later verlate op die N3 teruggevind.” Die slagoffer het beserings opgedoen en mediese behandeling ontvang, sê Earle.
Polisie-eenhede, insluitend die honde-eenheid, plaaslike speurders, landelike veiligheid-koördineerders en beamptes van naburige polisiekantore is onmiddellik gemobiliseer. Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die voorval ten sterkste en vra enigeen moet na vore kom met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help.
“Ons sal nie rus totdat dié wat verantwoordelik is, agter tralies is nie. Gemeenskapslede word versoek om enige verdagte aktiwiteit of inligting aan te meld wat ons ondersoek kan help.”
Enigiemand met inligting kan sers. Kgahliso Lephoto van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade in die distrik Thabo Mofutsanyana by 082 332 3418 bel, of Stop Misdaad by 08600 10111.
Dit is die tweede plaasrooftog in die provinsie binne ’n week.
OFM Nuus het berig dat twee verdagtes (29 en 36) in die landdroshof op Smithfield verskyn het op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, motordiefstal en besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die bejaarde egpaar (78 en 81) het Sondag 3 Augustus vanaf die NG Kerk Smithfield na hul plaas teruggekeer toe die vrou die huis binnegaan en twee onbekende mans haar oorrompel het.
‘Hulle het die man gedwing om geld na hul rekening oor te betaal’
“Hulle het haar aangerand, met messe gedreig en haar teruggeforseer na waar haar man nog na die huis geloop het,” sê Earle. Die verdagtes het toe beide slagoffers in die huis ingeforseer en hulle met kabelbinders vasgemaak.
“Hulle het die huis deursoek, selfone, kontant en juweliersware gesteel en die man gedwing om geld na hul rekening oor te betaal. Hulle het met die man gevlug en hom later in die oprit van die plaas agtergelaat.”
Die gesteelde voertuig en die geld is teruggevind, sê sy.