Central SA
Vanderbijlpark-ma, sangoma se verhoor tot Oktober uitgestel─── ZENANDE MPAME 06:00 Wed, 13 Aug 2025

Die verhoor van die Vanderbijlpark-vrou, wat daarvan beskuldig word dat sy haar tweejarige verkoop het, en die sangoma wat glo by die kleuter se dood betrokke was, hervat op Maandag 6 Oktober in die plaaslike landdroshof.
Die saak is uitgestel vir verdere ondersoeke weens ’n uitstaande nadoodse ondersoek en DNS-ontleding van die kind se oorskot. Kuneuwe Shalaba (33) en die sangoma Sebokoana Khoanyana (50) het verlede Woensdag (6/8) Augustus voorgekom en bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.
“Die saak van die twee is uitgestel tot Maandag 6 Oktober vir verdere ondersoek,” sê Lumka Mahinjana, Gautengse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag. “Die uitstel is toegestaan weens ’n uitstaande nadoodse ondersoek en DNS-ontleding van die kind se oorskot.
“Khoanyana het met sy vorige hofverskyning sy borgtogaansoek laat vaar, en ’n bykomende aanklag van onwettige immigrasie is bygevoeg. Die hof het vroeër geweier om die ma op borgtog vry te laat.”
Khoanyana, ’n Lesotho-burger, word aangekla van moord met voorbedagte rade, mensehandel en onwettige immigrasie. Die oortreding van die Immigrasiewet is bygevoeg omdat hy na bewering onwettig in Suid-Afrika is.
Shalaba word aangekla van moord met voorbedagte rade en mensehandel, asook sameswering om roof te pleeg en regsverydeling.
Kutlwano Shalaba (2) is aanvanklik in November verlede jaar deur haar ma as vermis aangemeld, maar ondersoeke het later aan die lig gebring sy was blykbaar betrokke by haar kind se verdwyning.
Khoanyana is in hegtenis geneem en het na bewering ’n bekentenis aan die polisie afgelê. Hy het ook gewys waar hulle glo die kleuter begrawe het – langs Waterpanweg naby die R28 in Bekkersdal. Menslike oorskot, vermoedelik dié van die kind, is opgegrawe en DNS-toetse is aan die gang om die identiteit te bevestig.
Met sy eerste hofverskyning het Khoanyana gesê hy is voornemens om skuld te beken, maar landdros Michael Tlale het hom afgeraai om toe al skuld te beken, omdat dit nie die regte stadium in die verrigtinge was om te pleit nie.
Na bewering het die peuter se ma in November verlede jaar die kind na die sangoma geneem en hom gevra om die kind dood te maak, omdat sy ontevrede was met die baba se geslag en moeg was daarvan om dit vir haar familie weg te steek.
Shalaba het die seuntjie na bewering gif ingegee. Nadat die kind gesterf het, het die twee glo die liggaam na ’n vlak graf in Waterpan geneem en daar begrawe.