On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Sinkgat op Vrystaatse skoolterrein eindelik herstel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:21 Wed, 13 Aug 2025

Sinkgat op Vrystaatse skoolterrein eindelik herstel | News Article
Die sinkgat is ná amper twee jaar op die skool se rugbyveld herstel. Foto verskaf

’n Sinkgat by ’n Bloemfonteinse skool is ná ’n vertraging van langer as twee jaar en herhaalde opvolg met die munisipaliteit eindelik herstel en sportbyeenkomste kan weer voortgaan.

Die ontstaan van die sinkgat is die die eerste keer in Maart 2023 by Mangaung-metro aangemeld kort nadat ’n groot wolkbreuk veroorsaak het dat die gat op die B-rugbyveld van die Hoërskool Sentraal ontstaan het, sê Charles Liversage, skoolhoof. Ten spyte daarvan dat die skool die munisipaliteit minstens maandeliks genader het – en soms meer dikwels, veral voor sportseisoene – het werk eers in Julie verlede jaar begin.

“Die oorsaak van die sinkgat is in 2023 bevestig as die ineenstorting van ’n gedeelte van ’n ondergrondse stormwaterkanaalplafon. Teen middel 2023 het die munisipaliteit formeel bevestig dat herstelwerk beplan is, maar verskeie beloofde begindatums is gemis weens tenderprosesse, kontrakteurveranderinge en logistieke en begrotingsuitdagings.”

Die herstelwerk in Februarie. Foto verskaf

Volgens Liversage het sporadiese terugvoer slegs van die eerste kontrakteur gekom toe dit versoek is, terwyl die tweede kontrakteur, wat die werk voltooi het, gereelde vorderingsverslae verskaf het. Hy sê die voortdurende probleem het die skool gedwing om sy sportbeplanning aan te pas, sekere aktiwiteite af te gelas en ’n afstand rondom die gat af te sper ter wille van die skool gemeenskap se veiligheid.

“Slegs twee van die drie rugbyvelde was in gebruik, wat wedstrydskedules, oefentye en toernooie ontwrig het. Die betrokke veld het ook as die hoofkrieketveld gedien, wat beteken het dat geen krieketwedstryde vir jaar lank daar aangebied kon word nie.”

Liversage sê hoewel ouers, leerders en personeel begrip gehad het vir die kompleksiteit van die probleem, het frustrasie toegeneem weens die voortdurende vertragings. “Die skool het regstappe (gedoen), wat ’n sleutelrol gespeel het om vinniger optrede van die munisipaliteit te bevorder.”

Die gat is in Februarie wyer oopgemaak om vas te stel wat dit veroorsaak het. Foto verskaf

Geen ernstige beserings het plaasgevind weens die sinkgat nie aangesien die gebied vinnig en kosteloos deur Raubex beveilig is voordat enige kontrakteurs ingebring is.

“Hul vinnige optrede het die skool bykomende uitgawes vir sekuriteit gespaar, hoewel alternatiewe sportlokale intussen gereël moes word. Maandelikse vergaderings ter plaatse met die munisipaliteit het gevolg, en die skool is later verseker dat die projek in sy finale stadiums was, met voltooiing wat binne ’n maand verwag word.”

Om ’n herhaling van hierdie probleem te voorkom, beplan die skool om gereelde inspeksies te hou – veral gedurende die reënseisoen – tesame met proaktiewe monitering van die stormwaterstelsel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.