Central SA
Oudkaptein, vrou in hof oor vete met sakebroers van Goudveld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:12 Fri, 15 Aug 2025

’n Voormalige Vrystaatse polisie-kaptein en sy vrou verskyn Vrydag (15/8) in die hof op strafregtelike aanklagte wat voortspruit uit sy tydperk in die polisiediens en wat verband hou met ’n vete met twee sakemanbroers van Welkom.
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, se saak word in die Welkom-landdroshof aangehoor nadat hul selfone na bewering in ’n ondersoek verbind is met voorvalle van intimidasie en crimen injuria. Dit spruit glo uit ’n persoonlike vete met die bekende sakeman-broers op die dorp Manny en Jose Jardim.
Die paartjie word ook daarvan beskuldig dat hulle agter die graffiti is wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het.
Hulle word ook aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huise glo met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. ’n Kind is glo rakelings gemis.
’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf
Fourie, wat voorheen die rang van kaptein beklee het, is glo uit die polisie ontslaan ná beweerde misdadige optrede.
Die verhoor duur al etlike jare. Die verrigtinge word gereeld vertraag weens Fourie se herhaalde verandering in regsverteenwoordiging.
Volgens hofdokumente het Fourie onder meer sy staatsaangestelde prokureur, T.C. Bothma, vervang ná ’n dispuut tussen die twee. ’n Nuwe regshulpprokureur is sedertdien aangestel om hom te verteenwoordig.
Ook padtekens is geteiken om boodskappe oor die Jardims uit te dra. Foto verskaf
Die saak, wat reeds gedeeltelik verhoor is, behels ook ’n aanklag wat met ammunisie verband hou – wat die Nasionale Vervolgingsgesag voorheen oorweeg het om te laat vaar nadat Fourie se regspan vertoë gerig het.
Kol. Ben Strydom is die ondersoekbeampte en ook ’n sleutelgetuie.
Adv. Allen Simpson kla aan ná ’n spesiale opdrag ingevolge artikel 38 van die Wet op Nasionale Vervolging dat ’n advokaat van buite die staat verteenwoordig.