Central SA
Vala Umgodi: Goudveldse polisie behaal sukses─── 10:07 Fri, 15 Aug 2025

Die Vrystaatse polisie hou die druk vol op misdadigers wat die veiligheid en welstand van inwoners bedreig.
Operasie Vala Umgodi-spanne het Donderdag (14/8) in verskeie operasies dwarsoor die provinsie toegeslaan op dwelmhandelaars, onwettige myners en buitelanders wat hulle onwettig in Suid-Afrika bevind, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Beamptes het omstreeks 13:15 op ’n wenk gereageer oor ’n vermeende dwelmhandelaar op Odendaalsrus. “Die spanne het op ’n woonstelblok in Steynstraat toegesak en ’n bekende straathandelaar (46) deursoek,” sê Kareli.
Die polisie het beslag gelê op Mandrax, tik en ’n skaaltjie. Foto: SAPD
Hulle het afgekom op ’n hoeveelheid Mandrax-pille, tik en ’n swart digitale skaal. Die vrou is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Van Odendaalsrus af het die spanne sowat 65 km suid na Theunissen gery, waar hulle ’n onwettige buitelander (34) verras het wat na bewering besig was met ongematigde mynboubedrywighede op ’n mynperseel. “Die verdagte is in hegtenis geneem omdat hy (na bewering) in besit was van gouddraende stof en gereedskap wat in onwettige mynbou gebruik word,” sê Kareli.
’n Ryloper is buite Ventersburg aangekeer omdat hy na bewering onwettig in die land is. Foto: SAPD
Terwyl die spanne daarna op patrollie was op Ventersburg, het hulle afgekom op ’n buitelander (29), wat langs die N1 staan en duimry het Kaapstad toe. “Daar is vasgestel dié man het geen immigrasie-identifikasie of -dokumentasie nie, wat gelei het tot sy inhegtenisneming.”
Elders op die Vrystaatse Goudveld het die span ’n inspeksie gehou van sluikgoedere in Virginia se township, Meloding, sê Kareli. In ’n snoepwinkel het hulle ’n buitelander (23) teëgekom wat geen behoorlike immigrasiedokumente gehad het nie. Hy is in hegtenis geneem vir die oortreding van die Immigrasiewet.
“Die flinke en doelgerigte optrede van die Vala Umgodi-spanne onderstreep hul toewyding daartoe om misdaad uit te roei wat die veiligheid en welstand van Vrystaatse gemeenskappe in gevaar stel,” sê Kareli. “Die stryd teen dwelmhandel, onwettige mynbou en ongemagtigde immigrasie bly hul grootste doelwit.”
OFM Nuus cvsmcdfasd