On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat landboukolleges: Studente bygevoeg tot saak oor beweerde wanvoorstellings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:55 Sat, 16 Aug 2025

Vrystaat landboukolleges: Studente bygevoeg tot saak oor beweerde wanvoorstellings | News Article
Die Vrystaat Landboukollege het met regsoptrede weens beweerde wanvoorstelling begin. Foto: Getty Images

’n Bevel is gemaak om die 33 studente by die aansoek te voeg waarin ’n landboukollege daarvan beskuldig word dat hy ’n langstaande landboukollege se studente afgerokkel en ’n soortgelyke naam gevestig het.

Die saak is ook Donderdag (14/8) in die hooggeregshof in Bloemfontein van die hofrol verwyder. OFM Nuus het vroeër berig die Vrystaatse Landboukollege (VSLK) en die International Agriculture Academy for Africa (i3A) het die Landboukollege Vrystaat (LV) en ander na die hooggeregshof in Bloemfontein geneem oor bewerings van naamkopiëring en studentestropery. Hulle voer aan dat dit hul reputasie en sake benadeel het.

Namens die respondente het adv. Joubert Zietsman SC aansoek gedoen om 33 LV-studente by die saak in te sluit.

Hy het ook aangevoer die studente sal direk geraak word nadat VSLK en i3A regstappe gedoen het om LV , Xanadu Studentekoshuis, die Universiteit van Quaggafontein, Twoline Training Skills for Africa, saam met Christo Dippenaar en Antonie Geyer, te keer om studente te kontak of te werf vir enige kommersiële aktiwiteite.

Johann Stassen, direkteur van i3A, beweer dat voormalige vennote die instelling se naam, reputasie en intellektuele eiendom misbruik het, studente mislei en aansienlike skade aan i3A se opvoedkundige aktiwiteite veroorsaak het. Dit sluit in wanvoorstelling, ongemagtigde gebruik van vertroulike inligting en kontrakinmenging.

Die petisie versoek ook die hof om hierdie partye te verbied om valslik enige vennootskap of amptelike skakel tussen die Landboukollege en VSLK te impliseer in kommunikasie met die publiek, studente of hul families.

Boonop wil hulle 'n wetlike opdrag hê wat die Landboukollege verhinder om homself as 'n gemagtigde verskaffer van VSLK se dienste voor te stel. 

Regter Corné van Zyl het die versoek goedgekeur en enige uitspraak oor koste tot die hoofverhoor uitgestel.

Die logo waarmee Vrystaat Landboukollege in 2023 bekendgestel is. 

Regsgeskil oor misbruik van naam en hulpbronne

In Januarie 2023 het Xanadu Studentekoshuis, verteenwoordig deur Anneke Dippenaar, i3A genader oor studenteverblyf en later oor die aanbied van landboukwalifikasies deur i3A se aanlyn platform. Mooikrans Opleidingsinstituut in Amersfoort, Mpumalanga, het reeds hierdie model gebruik. ’n Memorandum van verstandhouding en nie-openbaarmakingsooreenkoms is onderteken. Xanadu wat sake doen as Vrystaat Landboukollege sou i3A se SAQA- geakkrediteerde platform gebruik, geregistreer by AgriSETA.

Die logo van die Vrystaat Landboukollege wat nou gebruik word.

Geyer, ’n i3A-werknemer, is aangestel om toesig te hou oor studente en gehaltebeheer.

Die Vrystaat Landboukollege is in Januarie 2023 geregistreer met JP Kruger (huidige enigste direkteur), Graeme Kruger, en Dippenaar, hoewel Stassen sê hy was onbewus van die direkteurskap daarvan.

In Mei 2023 het i3A  ’n lisensieooreenkoms met Vrystaat Landboukollege (VSLK) aangegaan vir die gebruik van AgriPedia-inhoud, met eksklusiewe gebruiksregte wat deur i3A gehou word. VSLK was verantwoordelik vir die invordering van klasgeld.

‘Nuwe entiteit is geregistreer’

Stassen is tussen Mei en September in die hospitaal opgeneem. Met sy terugkeer het hy ontdek dat VSLK dormant was en dat bedrywighede na UQF verskuif het,  ’n nuwe entiteit wat in Augustus 2023 by dieselfde adres as Xanadu geregistreer is.

In ’n vergadering in Oktober het Dippenaar beweer dat UQF sake namens VSLK hanteer, hoewel  Kruger ontken het dat hy van hierdie opstelling geweet het. Tydens  ’n opvolgvergadering in Desember is ooreengekom dat uitstaande betalings aan i3A gemaak sou word.

Landboukollege Vrystaat se logo. 

In Januarie is Landboukollege Vrystaat geregistreer –  ’n naam wat Stassen meen lynreg bots met die Vrystaat Landboukollege. Kruger het ook  ’n klag hieroor by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom in Junie ingedien.

In Maart het i3A weer vir VSLK gevra vir die geld wat aan hulle verskuldig is en toe geen reaksie ontvang is nie, is die studente se toegang tot die e-leerplatform opgeskort. Die UQF het  ’n bedrag van R371 100 oorbetaal en toegang is weer aan die studente in Junie verskaf.

Ten tyde van die sluiting van die e-leerplatform het ouers gekla omdat hul rekeninge op datum was en nie kon verstaan waarom i3A nie betaal was nie. Hulle het ook die verandering van bankbesonderhede van VSLK na UQF bevraagteken. Studente is ook uit die kollege onttrek.

‘Sowat 61 studente het hul studie gestaak’

In Julie het i3A by monde van  ’n prokureursbrief gevra dat bedrywighede weer met VSLK hervat word en nie met UQF of LV nie om hul ooreenkoms te eerbiedig.

Intussen het Dippenaar VSLK laat weet dat 61 studente hul studie gestaak het en gevra i3A moet hul rekords aanpas.

Dippenaar het in reaksie op een van die prokureursbriewe wat in Augustus gevra het dat LV ophou sake doen onder die naam wat strydig is met VSLK, genoem dat bewerings van bedrog wat teenoor derde partye gemaak is, lasterlik is. Regsoptrede in hierdie verband sou volg. Hy het ook verwys na die afwesigheid van  ’n geregistreerde handelsnaam.

Nuwe diensverskaffer aangestel

In Julie is ouers van studente by LV laat weet dat Skills for Africa die nuwe diensverskaffer is waardeur akademiese akkreditasie verkry sal word. Soos i3A, is hierdie ook  ’n SAQA geakkrediteerde diensverskaffer wat by die Agriseta geregistreer is. In  ’n brief wat by die hofstukke ingesluit is, het JH Potgieter, besturende direkteur, ouers die versekering gegee die eerste ses maande se studie is nie verlore nie en wat hulle tot dusver afgehandel het, geassesseer sal word. LV se perseel is ook by die Agriseta registreer as  ’n werkplek vir die studente.

OFM Agri het in September LV se opedag besoek en uitgevra oor hul kursusinhoud. Geyer en Dippenaar het verduidelik die inhoud word saamgestel uit handboeke om hoë gehalte en Afrikaansonderrig te verseker. Daar is ook genoem die vorige e-leerplatform, met al die take wat die studente moet voltooi, nie so goed gewerk het nie en dat ’n meer praktiese benadering iets is waarna hulle streef. Skills for Africa bied  ’n leermodel met 30% klaskamer- en 70% praktiese opleiding. 

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.