On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Ingryping geëis ná geweld by Noord-Kaapse sjebiens

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:18 Thu, 21 Aug 2025

Ingryping geëis ná geweld by Noord-Kaapse sjebiens | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Beroep word op die nasionale polisiehoof gedoen om in te gryp by ’n Noord-Kaapse polisiekantoor ná die tweede voorval in dié omgewing waarin iemand by ’n sjebien vermoor is.

Die DA doen ’n beroep op lt. genl. Shadrack Sibiya, die nasionale polisiekommissaris, om dringend werk te maak van die kritieke infrastruktuur- en hulpbronuitdagings wat die Jan Kempdorp-polisiekantoor in die gesig staar. Dit kom in reaksie op toenemende geweld by onwettige drankwinkels (sjebiens) in die gebied, sê Lisa Schickerling, DA-LP en die party se kiesafdelinghoof vir Diamant-Noord.

“Daar was twee dodelike voorvalle in minder as twee weke. In die mees onlangse een is twee mense dood en een beseer in ’n skietery by ’n plaaslike sjebien. Dit volg op ’n ontploffing by ’n ander sjebien ’n paar weke gelede waarin drie persone dood en 14 beseer is.”

Schickerling het die noodsaaklikheid beklemtoon dat die polisie hul pogings verskerp om misdaad te bestry wat verband hou met onwettige drankwinkels in die Phokwane-munisipaliteit. Polisiebeamptes moet ook voorsien word van die toerusting wat hulle nodig het om hul werk effektief te doen.

Toesigbesoeke aan die Jan Kempdorp-polisiekantoor het aan die lig gebring hoe verwaarloos die kantoor en perseel is. “Dit weerspieël nie net lae moraal onder polisiebeamptes nie, maar ook ’n algemene gebrek aan openbare vertroue in plaaslike polisiëringsdienste.”

Gemeenskapsdienssentrum onbeman

Sy het daarop gewys dat daar geen sigbare inligtingsborde is om die polisiekantoor te identifiseer nie. “Die fasiliteit het nie genoeg kantoorruimte nie en die houtvloere is onveilig. Die slagoffervriendelike vertrek is onvoldoende en het nie badkamergeriewe of kindervriendelike hulpbronne nie. 

“Die polisiekantoor het net vier kleedkamers wat met die gemeenskap gedeel word. Die telefoonstelsel is dikwels buite werking en daar is geen veiligheidskameras nie. Die polisiekantoor het ook te min flitse en radio’s.”

Volgens Schickerling was die gemeenskapsdienssentrum in een geval onbeman toe die kantoor besoek is. Slegs een administratiewe amptenaar was aan diens, terwyl die enigste polisiebeampte ander sake behartig het. “Die personeeltekort is kritiek, en vakante poste ondermyn dienslewering ernstig,” het sy bygevoeg.

Van die 14 polisievoertuie wat aan die kantoor toegeken is, is slegs nege tans operasioneel. Een voertuig is afgeskryf, terwyl daar gewag word dat vier ander herstel word. Speurders word gedwing om voertuie te deel, met elke voertuig wat aan twee tot drie beamptes toegeken word. Daarbenewens het ses beamptes steeds nie amptelike magtiging om te bestuur nie.

Skriftelike antwoord versoek

“Hierdie situasie is heeltemal onvoldoende om die groeiende misdaadprobleem in Jan Kempdorp te kan hanteer, veral die geweld wat verband hou met onwettige drankwinkels,” sê Schickerling.

Sy het bevestig dat sy formeel ’n skriftelike antwoord teen einde September van die nasionale kommissaris versoek het, waarin beplande ingrypings uiteengesit word. Dit sluit in dringende herstelwerk aan en instandhouding van infrastruktuur, die vul van vakatures om die gemeenskapsdienssentrum te versterk, die voorsiening van noodsaaklike polisiëringsbronne, en ’n toename in die aantal gemagtigde bestuurders vir amptelike voertuie.

“Dit is tyd vir die SAPD om beslissend op te tree om hierdie groeiende misdaadepidemie te stop, wat nie net lewens eis nie, maar ook wettige besighede versmoor,” sê Schickerling.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.