On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp: ‘Vermiste’ mans laat vaar borgtogaansoek

───   08:00 Mon, 25 Aug 2025

Klerksdorp: ‘Vermiste’ mans laat vaar borgtogaansoek | News Article
Die Klerksdorp-landdroshof. Foto: Facebook

Die mans van Noordwes wat aanvanklik as vermis aangemeld is en later vir diefstal in hegtenis geneem is, sal ná verwagting Maandag (25/8) weer in die hof verskyn vir hul streekhofverhoor.

Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) het Maandag (18/8) in die Klerksdorpse landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal en hul borgtogaansoek laat vaar, sê Sivenathi Gunya, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Van Blerk en Van der Walt is Donderdag 14 Augustus in Kempton Park in die Oos-Rand opgespoor nadat hulle byna ’n maand vantevore as vermis aangemeld is. Hulle is ongedeerd gevind, danksy wenke van die publiek.

OFM Nuus het voorheen berig Van der Walt en Van Blerk is as vermis aangemeld is nadat hulle laas op Maandag 14 Julie gesien is. Hulle is werknemers van Afrikaner Holding van die Klerksdorpse voorstad Meiringspark.

Donovan van der Walt en Christiaan van Blerk. Foto: Verskaf

Luidens berigte het hulle daardie dag die werk in ’n wit Toyota Hilux Raider-bakkie verlaat om onderdele in Klerksdorp se nywerheidsgebied te gaan haal. Hulle het nooit teruggekeer nie.

Op 28 Julie, terwyl die twee mans nog vermis was, is die liggame van twee ongeïdentifiseerde mans naby Pietermaritzburg ontdek. Dit het bespiegelinge laat ontstaan dat die liggame aan Van der Walt en Van Blerk kon behoort.

Die polisie het egter later bevestig die gerugte is vals.

Die polisie herinner die publiek steeds daaraan dat vermiste persone onmiddellik by enige polisiekantoor aangemeld kan word. Verklarings moet ’n onlangse foto van die vermiste individu, ’n beskrywing van die klere wat hulle laas gesien is, en die plek waar hulle laas gesien is, insluit.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.