On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Saak van oudpolisiekaptein en sy vrou weer in Welkom uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:50 Sun, 24 Aug 2025

Saak van oudpolisiekaptein en sy vrou weer in Welkom uitgestel  | News Article
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina. Foto: Charne van Der Merwe

Die saak van ’n voormalige Vrystaatse polisiekaptein en sy vrou is Vrydag weer vertraag nadat sy ’n doktersbrief ingedien het.

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, sou Vrydag in die Welkomse streekhof verskyn, maar die saak is tot 17 September uitgestel. ’n Dokter in Henneman het Anna weens brongitis tot Maandag afgeboek. 

Die saak was Maandag (18/8) ook vertraag toe Fourie beweer het hy kan nie Engels verstaan nie en ’n tolk nodig het. Die saak sloer al vir ses jaar.  Tydens hul vorige verskyning op Vrydag (15/8) het Fourie egter alle vrae in Engels sonder enige probleme beantwoord.

Hulp van ’n tolk versoek het

Toe adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, hom hieroor uitgevra het, het Fourie geantwoord dat hy nie sou stry nie, maar volgehou dat hy die reg het om in sy eie taal ondervra te word.

Simpson het geantwoord Fourie het geen gronde om Afrikaanse ondervraging te eis nie en opgemerk hoewel Fourie ’n Afrikaanssprekende is kan sy prokureur, Eddy Nkuna, nie die taal verstaan nie. Nkuna het dit bevestig en gesê dat hy die hulp van ’n tolk versoek het.  

Fourie het in die verlede ook gereeld sy regsverteenwoordiger verander. 

Graffiti soos dié het oral in die Goudveld opgeduik. Foto: SAPD

Die aanklagte hou vermoedelik verband met ’n jare lange vete met die bekende broers Manny en José Jardim. Die egpaar word ook daarvan beskuldig dat hulle agter graffiti was wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het, met die Jardims as teiken.

Hulle staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord wat verband hou met voorvalle waarin een van die broers se huis na bewering met 'n spykerbom aangeval is. ’n Kind is na bewering tydens ’n skietery net-net gemis.

Die Fourie-egpaar sit na bewering agter al die graffiti. Foto: SAPD

Fourie is Vrydag opdrag gegee om Maandag ’n foto van hul oudste kind hof toe te bring. Volgens Simpson kan die kind ’n faktor wees wat verband hou met die beweerde misdade.

Simpson het die hof daaraan herinner dat hy Fourie in 2021 versoek het om 'n DNS-toets te laat doen om te bevestig of die oudste kind sy biologiese seun is. Fourie het destyds geweier, maar het Vrydag aan die hof gesê hy het nou geen beswaar nie.

Nkuna het Vrydag aansoek gedoen dat Anna ontslaan word weens ’n gebrek aan bewyse. Die staat het die aansoek teengestaan en die hof het beslis sy moet saam met haar man tereg staan.

OFM Nuus/Charne van Der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.