Central SA
Gesoek: Noord-Kaapse polisie benodig dringend honde─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:23 Wed, 03 Sep 2025

Die Noord-Kaapse polisie versoek die publiek om honde aan die honde-eenheid te skenk om hul kapasiteit te verhoog en dienslewering te verbeter.
Die viervoetige helde speel ’n belangrike rol om woonbuurte veilig te hou, vermiste persone op te spoor en te helpin die stryd teen misdaad. “Hierdie honde is meer as troeteldiere, hulle is vennote om ons gemeenskappe veilig te hou,” sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Dié beroep is daarop gemik om die kapasiteit van die honde-eenheid te verhoog en dienslewering regoor die provinsie te verbeter.
Foto ter illustrasie: iStock
Kock verduidelik dat die eenheid voortdurend energieke en selfversekerde honde benodig wat geskik is vir opleiding in enige van die agt honde-eenheid-dissiplines.
“Die rasse wat die meeste gesog is, sluit in borderkollies, Duitse herdershonde, Hollandse herdershonde, Belgiese skaaphonde, labradors, bloedhonde en rottweilers,” sê Kock.
“Honde wat geskenk word, moet tussen 18 maande en vyf jaar oud wees, gesond, energiek, selfversekerd en nie bang vir mense of harde geluide nie.
Foto ter illustrasie: iStock
“Ons evalueer elke hond voordat die diere by die eenheid aansluit om te verseker dat hulle die opleiding kan hanteer en uiteindelik hul pligte effektief kan uitvoer.”
Lede van die publiek wat belangstel om hul honde te skenk, kan die polisie se provinsiale honde-eenheid kontak vir ’n evaluasie voor die oorhandiging.
Vir meer inligting kan lt. kol. Nehemiah Malete by 082 776 9061 of ao. Brakkies Breedt by 082 554 5597 gekontak word.
Belangrikheid van polisiehonde
- Opspoor van verdagtes: Dié honde kan reukspore volg om misdadigers te help vang.
- Opspoor- en reddingswerk: Hulle help om vermiste persone in stedelike én landelike gebiede op te spoor.
- Opspoor van dwelms: Spesiaal opgeleide honde kan dwelms, plofstof en vuurwapens opspoor.
- Skarebeheer: Goed opgeleide honde help om orde te handhaaf tydens groot byeenkomste of onluste.
- Misdaadvoorkoming: Die teenwoordigheid van polisiehonde dien dikwels as ’n sterk afskrikmiddel vir kriminele aktiwiteite.