Central SA
Tiener van Kimberley vra ondersteuning om weer te loop─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Fri, 05 Sep 2025

’n Meisie van Kimberley, wat sedert geboorte blind is, word nou ook deur die uitdaging in die gesig gestaar om haar vermoë om sonder hulp te loop te verloor.
Leone Venter (16), ’n leerder aan die Retlameleng-skool vir blindes en dowes, benodig stutte, ondersteuning en voortdurende fisioterapie om haar te help om weer gemakliker en onafhanklik te loop. Haar familie het ’n BackaBuddy-veldtog begin om die nodige geld vir haar behandeling in te samel.
Leone se loopprobleme het in 2022 begin toe haar bene vinnig moeg geword en sy meer gereeld begin val het, veral wanneer sy op ongelyke oppervlakke moes trap. “Dit is moeilik vir haar om iewers heen te gaan en lank te loop,” vertel haar pa, Pieter.
Wat vroeër eenvoudige uitstappies was, soos om deur ’n winkel te stap, put haar nou uit. Leone laat hierdie uitdagings egter nie toe om haar onder te kry nie.
Leone Venter se beenprobleme het in 2022 begin. Foto verskaf
Haar ma, Leonie, vertel haar dogter lees en skryf in braille, onderskei tussen lig en donker, en geniet musiek, sang, kitaar, klavier en dans saam met vriende.
“Musiek help haar om alles te hanteer wanneer die lewe oorweldigend voel. Haar positiewe gees is gewortel in geloof en die hoop dat sy eendag dalk sal kan sien.”
Haar ouers beskryf die reis as sowel emosioneel as uitputtend. Hulle onthou dat hulle vroeg reeds tekens opgemerk het toe Leone, as baba, dikwels na die son gestaar het en haar eerste bril op slegs agt maande oud gekry het.
Leone Venter benodig nuwe stutte. Foto verskaf
“Dit was nie ’n maklike pad vir ons om te loop nie. Ons het reeds soveel mediese toetse met haar deurgemaak en ons is steeds besig om meer antwoorde te kry oor wat die abnormaliteit in haar voete veroorsaak,” sê Pieter.
Vir Leone bring elke dag sy eie uitdagings. “Sy moet gelei en ondersteun word wanneer sy loop, en haar voete moet noukeurig gemonitor word om te voorkom dat sy val,” sê Leonie.
Haar ouers erken dat die emosionele tol erg is, maar hulle probeer altyd om haar gemoed hoog te hou deur te lag en met gesprekke of om bloot saam na musiek te luister. “Die liefde loop altyd oor vir haar.”
Leone Venter se voet. Foto verskaf
Die gesin het die BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur omdat die koste van haar mediese sorg te veel geword het om alleen te dra. Hulle skat dat ’n totaal van R45 000 benodig word vir Leone se stutte en fisioterapie.
Tot dusver is R14 900 ingesamel. Elke sent sal aangewend word om te verseker dat Leone die behandeling en terapie ontvang wat sy nodig het om weer so normaal as moontlik te loop, sê haar ouers.
Leone se boodskap is om altyd positief in moeilike omstandighede te bly. “Moenie moed opgee wanneer die lewe moeilik raak nie, en wees altyd dankbaar."
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs