On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Vrou se onderlyf in verlate gebou in Heidedal gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:19 Sat, 13 Sep 2025

Vrou se onderlyf in verlate gebou in Heidedal gevind  | News Article
Die onderlyf van ’n vrou is in Heidedal, Bloemfontein, gevind. Foto: iStock

Die polisie in die Vrystaat is besig met ’n ondersoek nadat net die onderlyf van ’n vrou Vrydag (12/9) in ’n vervalle gebou in Heidedal, Bloemfontein, gevind is. 

“Twee kinders het Vrydag omstreeks 15:00 naby die vervalle oorstroomde gebou gespeel toe hulle iets in die water sien dryf het. Hulle het onmiddellik volwassenes in die omgewing in kennis gestel en die polisie is ontbied,” sê sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder.

Gebied voorlopig afgesper

Die gebied is afgesper sodat die polisie en forensiese kenners met hul ondersoek kan voortgaan. Die duik-en-reddingseenheid van Bloemfontein help met die soektog omdat die toestande uitdagend is. 

Kareli sê die vrou se onderlyf was in ’n gevorderde stadium van ontbinding. “Sy was geklee in ’n bont spanbroek en het net een Soviet-tekkie aan haar linkervoet gehad.”  

Water moet dreineer word 

Die polisie is besig om die water te dreineer in die hoop om haar vermiste bolyf te vind. ’n Beroep word op die publiek gedoen om te help om haar te identifiseer. 

Enigiemand met inligting kan die Heidedal-polisiekantoor by 082 553 6307 bel of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.