Central SA
Vrystaatse inwoners keelvol vir foutiewe munisipale rekeninge─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:18 Sun, 14 Sep 2025

Inwoners is ongelukkig oor foutiewe waterrekeninge wat baie huishoudings onder ernstige finansiële druk plaas.
Die inwoners in die Metsimaholo-munisipaliteit sukkel met verkeerde rekeninge, swak kommunikasie en in sommige gevalle elektrisiteitsonderbrekings. Hulle sukkel om die probleme op te los.
Die DA doen onmiddellike stappe om te verseker dat die betrokke inwoners gekorrigeerde rekeninge en behoorlike terugvoer van die munisipaliteit ontvang, sê Louis van Heerden, DA-raadslid.
“Hierdie foute het onnodige finansiële stres veroorsaak en inwoners se vertroue in die munisipaliteit se vermoë om basiese dienste te lewer geskend.”
Rekeningprobleme
Hy sê die tegniese dienste- en finansiële departemente het herhaaldelik versuim om die wydverspreide probleme met rekeninge op te los ondanks talle verslae en opvolgwerk.
“Die gebrek aan verantwoordbaarheid en deursigtigheid is onaanvaarbaar. Dit benadeel inwoners direk en ondermyn vertroue in plaaslike bestuur.”
Die DA doen ’n beroep op die munisipaliteit om dringend alle foutiewe rekeninge reg te stel, inwoners van duidelike en tydige kommunikasie te voorsien, en toesig te versterk om soortgelyke mislukkings in die toekoms te voorkom.
Die DA sal die situasie monitor totdat ’n blywende oplossing gevind word.
Waterkrisis in Ladybrand
Intussen doen die DA in die Mantsopa-munisipaliteit ’n beroep op dringende optrede om die voortdurende waterkrisis in Ladybrand aan te pak. Inwoners in verskeie gebiede het vir meer as vier dae geen water gehad weens gebarste pype, voortdurende lekkasies en onvoldoende instandhouding.
Ten spyte daarvan dat die munisipaliteit ses maande gelede ’n kontrakteur aangestel het om die Genua-waterbehandelingsaanleg op te knap is geen verbeterings aangebring nie, sê Nicky van Wyk, raadslid.
“Die munisipaliteit se afhanklikheid van tydelike oplossings beklemtoon wanbestuur en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid. Mantsopa het ons gemeenskap in die steek gelaat. Tans is daar gebiede sonder water vir meer as vier dae. Ons sal antwoorde en gevolge eis vir hierdie totale minagting vir menseregte.’
OFM Nuus dg