On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Toerismemaand: Postmasburg, waar geskiedenis en natuur ontmoet

───   REFILWE BEKANE 13:00 Wed, 17 Sep 2025

Toerismemaand: Postmasburg, waar geskiedenis en natuur ontmoet | News Article
Die dorp, oorspronklik ’n stasie van die Londense Sendinggenootskap met die naam Blinkklip. Foto: Nothern Cape experience

Terwyl Suid-Afrika Toerismemaand vier, is dit hoog tyd om die kollig te laat val op die ryke geskiedenis en natuurskoon wat in die hart van die Noord-Kaap skuil.

Postmasburg, ’n dorp 67 km noord van Griekwastad en 58 km suidwes van Daniëlskuil, bied ’n  unieke erfenis, wat besoekers kan kom verken. Die dorp, oorspronklik ’n stasie van die Londense Sendinggenootskap met die naam Blinkklip, het in 1890 sy huidige naam gekry. 

Dit is vernoem na ds. Dirk Postma (1818-1890), die eerste predikant van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, en het in 1936 ’n munisipaliteit geword.

Ds. Dirk Postma. Foto: My erfenis is vir my mooi of Eeufeesgedenkboek Gereformeerde Kerk Dordrecht

Postmasburg bied ’n verskeidenheid besienswaardighede wat die dorp se merkwaardige verlede en natuurlike omgewing weerspieël. Besoekers kan die geskiedenis van die omgewing by Blinkklipkop (Tsantsabane) ontdek, waar argeologiese vondse verklap dat die Khoisan reeds vanaf 700 n.C. spekulariet hier gemyn het. 

Hierdie mineraal, ’n sagte, glinsterende vorm van hematiet, was ’n hoogs gewaardeerde kommoditeit wat in voorkoloniale tye as ’n kosmetiese middel en in rituele gebruik is. By Blinkklipkop is braaigeriewe ook beskikbaar.

Voorts is daar die Howitzer-kanon by die Burgersentrum, ’n eerbetoon aan diegene wat hul lewens in die Tweede Wêreldoorlog verloor het. Vir diegene wat in die dorp se godsdienstige geskiedenis belangstel, is daar die pragtige Gereformeerde Kerk, ’n blou dolomietklipgebou wat in 1908 opgerig is, en die standbeeld van ds. Dirk Postma.

Die Gereformeerde Kerk in Postmasburg. Foto: Marelize Barnard

Nog ’n unieke baken is die ou Postmas-diamantmyn, ’n put van 45 m diep wat nou met helder water gevul is en wemel van visse. 

Volgens Christo Lubbe van Country Hotels bied Postmasburg en die hart van die Noord-Kaap ’n magdom ervarings. “Van die sprakelende witsandsoutpanne, waar die flaminke bymekaarkom, tot die asemrowende Witsand-natuurreservaat met sy brullende wit duine, wag daar avontuur op jou,” sê Lubbe.

Hy beklemtoon ook die ryk geskiedenis van die streek, insluitend die Anglo-American/Kumba-myntoere. “Of geniet die rustige skoonheid van die Boegoebergdam, perfek vir gesinspieknieks en buitelugpret.”


En as die son sak, nooi Lubbe besoekers om ware Noord-Kaapse gasvryheid by Country Hotels te kom ervaar.

Bron: Plekname van Suider-Afrika (Protea Boekhuis, 2020)

Northern Cape experience

OFM News/Refilwe Bekane mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.