On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Douglas-atleet benodig ondersteuning om internasionaal mee te ding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Wed, 17 Sep 2025

Douglas-atleet benodig ondersteuning om internasionaal mee te ding | News Article
Charé Janse van Vuuren (15) van Douglas. Foto verskaf

’n Jong atleet van Douglas in die Noord-Kaap het ’n droom groter as haar klein dorpie en ’n internasionale geleentheid kan dit laat gebeur.

Charé Janse van Vuuren (15) is deur die Worldwide Scholarships-program genooi om in 2026 in Swede mee te ding. Dit sal haar blootstel aan professionele afrigting, internasionale kompetisie en verskillende kulture. 

“Dit sal haar help om beide as atleet en as individu te groei, sê haar ma, Chantelle.

“Die program kan ook lei tot universiteitsbeurse en langtermynontwikkeling in atletiek wat haar nader bring aan haar uiteindelike doelwit om Suid-Afrika te verteenwoordig.”

Charé, ’n leerder aan die Hoërskool Douglas hardloop al sedert gr. R, verbeter skoolrekords en toon ’n natuurlike talent wat haar een van die vinnigste meisies in die Noord-Kaap gemaak het.  

Charé Janse van Vuuren is van die Hoërskool Douglas. Foto verskaf

Haar pa, Riaan, is haar afrigter en met die ondersteuning van haar familie het sy ontwikkel in ’n veelsydige atleet wat uitblink in naellope, hekkies, verspring en driesprong.

“Charé het reeds in gr.1 ’n ou skoolrekord in die 60 m verbeter, waarna haar pa haar stadig maar seker touwys begin maak het.

“Om groot te word in Douglas met beperkte sportgeleenthede, het uitdagings gebied, maar Charé se vasberadenheid, gekombineer met haar ouers se ondersteuning, het haar gemotiveerd gehou.”

Sy het die afgelope twee jaar ander kinders in haar skool geïnspireer om ook aan atletiek deel te neem wat bewys talent en harde werk kan van enige plek af kom.

Charé Janse van Vuuren is ’n veelsydige atleet. Foto verskaf

Op elfjarige ouderdom het sy begin fokus op die verdere ontwikkeling van haar vaardighede, veral in hekkies. Om meer blootstelling te kry, het sy begin meeding aan ASA-geleenthede buite skoolkompetisies.

Op hoërskool het sy begin intensifiseer met vier dae per week op die baan gedurende die buiteseisoen, en tot vyf dae in die seisoen, insluitend twee tot drie uur per dag, asook tuissessies.

Om hierdie besige skedule met skoolwerk en sport te balanseer, moes Charé egter netbal prysgee – 'n sport waar sy drie agtereenvolgende jaar provinsiaal gespeel het.

Charé se toewyding het talle prestasies opgelewer waar sy konsekwent skool- en streekrekords opgestel het, haar provinsie by nasionale ASA en SA skoolgeleenthede verteenwoordig het en steeds onder die top10-atlete in die land in haar items gereken word. 

Haar kompetisies sluit in die 100 m, 90 m-hekkies, verspring en driesprong. Foto verskaf

Die keuse van watter items om te kies om aan nasionale kompetisies deel te neem is altyd ’n uitdaging, maar sy het daarin geslaag om in al vier items in verskillende kompetisies deel te neem.

“Een van haar trotsste oomblikke was toe sy as die vinnigste meisie in die Noord-Kaap aangewys is – nie net in haar ouderdomsgroep nie, maar onder alle skoolgaande deelnemers," sê Charé.

“Die uitnodiging na Swede verteenwoordig meer as net nog 'n kompetisie. Dit is ’n geleentheid om haarself teen van die beste jong atlete ter wêreld te meet en om blootstelling te kry wat deure vir haar toekoms in atletiek kan oopmaak,” sê sy.

‘Enige ondersteuning sal groot verskil maak’

Die koste van hierdie reis is R104 000 en Charé benodig ondersteuning van plaaslike ondernemings, individue en die gemeenskap om dit moontlik te maak. Borgskappe, oefentoerusting, hardloopskoene of bydraes tot oefenkampe kan hierdie kleindorpse atleet help om die internasionale verhoog te betree.

Haar familie beklemtoon dat enige ondersteuning ’n groot verskil sal maak om haar talent en harde werk in sukses te omskep.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.