Central SA
Dodelike Bloem-botsing: Ouers vereer kinders met skenking aan diereskuiling─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:44 Tue, 23 Sep 2025

’n Ouerpaar van die Vrystaat se lewe het onherroeplik verander toe hul enigste twee kinders sowat agt maande gelede in ’n mortorongeluk gesterf het.
Vasbeslote dat mense nie hul kinders vergeet nie, het hulle besluit om terug te gee op ’n manier wat hul nagedagtenis eer. Ayden (8) en Ryan (6) Smit, asook hul niggie Leané (8) is op 23 Januarie oorlede toe ’n Toyota Hilux met ’n sleepwa na bewering oor ’n rooi verkeerslig by Aljo se Superspar gery het.
Die drie kinders wat oorlede is. Foto: Facebook
Gedryf deur die kinders se liefde vir diere, het Martin en Yolande Smit kos aan New Beginnings Animal Shelter geskenk, ’n plek na aan hul hart.
Martin sê hulle het die meeste van die kos self gekoop en met die hulp van vriende en plaaslike ondernemings kon hulle selfs meer items skenk.
Die gesin se band met New Beginnings strek jare terug toe hulle ’n hond, Little Bug, by die skuiling aangeneem. “New Beginnings doen soveel – nie net vir diere nie, maar ook vir die gemeenskap – dis hoe ons geweet het dit is die regte plek om te skenk.”
Ayden met een van die gesin se elf honde . Foto verskaf
Terwyl die hulp aan die diere ’n bietjie vertroosting gebring het, was dit ook ’n emosionele dag vir die Smits, want hulle het geweet hul kinders sou graag deel daarvan wou wees.
“Ons doen dit vir hulle. Ek is bang mense sal my kinders en die liefde wat hulle gedeel het, vergeet.”
Die Smits se huis is steeds vol troeteldiere: met elf honde, insluitend Kevin, wat Ayden se gunsteling was, Daisy, wat in Ryan se arms geslaap het, en Lilly, wat ’n spesiale band met Leané gehad het.
“Die Maandag voor die ongeluk het hulle buite met die honde gespeel. Hulle het dikwels aan die slaap geraak terwyl hulle een van hulle vashou,” onthou Martin.
Leané met een van die honde. Foto verskaf
Hulle moedig ook ander aan om te help waar hulle kan. “Selfs wanneer jy seer het, kan jy ’n verskil maak.”
Die gesin beplan om hul kinders se nalatenskap voort te sit deur skoolprogramme en jaarlikse skenkings. Die ondersteuning van die gemeenskap was ’n bron van vertroosting.
“Mense keer ons gereeld voor om te sê hulle bid vir ons. My vrou is my supervrou. Sy dra my deur my pyn en ondersteun alles wat ek probeer doen om ’n verskil te maak.”
Ryan was mal oor diere. Foto verskaf
Intussen sal die 19-jarige man wat glo ’n rooi verkeerslig verontagsaam en na bewering die ongeluk veroorsaak het, op 3 Desember in die hof verskyn. Dit volg ná ’n agt maande lange ondersoek toe ’n dossier aanhoudend teruggestuur is vir nuwe bewyse of inligting.