Central SA
Kommer oor gevaarlike pad naby Boshof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:58 Sat, 27 Sep 2025

Dingende optrede is nodig nadat talle mense op Vrystaatse pad sterf
Die R64 van die Krugersdriftdam na Boshof het in ’n doodslokval vir motoriste verander. Wat eens 'n noodsaaklike roete vir werkers, gesinne en leerders was, het nou ’n stuk vernietiging geword.
“Dit is vol slaggate en verwaarloos deur diegene in magsposisies,” sê Ernst Putsoenyane, DA-raadslid.
“In November is ’n inwoner van Dealesville op pad na Bloemfontein slegs 10 km buite die dorp dood.” Meer onlangs is ’n man op dieselfde stuk pad dood en sy kinders beseer.
Putsoenyane sê dit is nie bloot net ongelukke nie, maar die direkte gevolg van die regering se versuim om paaie te onderhou.
Die R64 van die Krugersdriftdam na Boshof. Foto verskaf
Genoeg is genoeg
“Hoeveel meer mense moet ons begrawe voordat die provinsiale regering optree? Hoeveel kinders moet sonder ouers gelaat word omdat leiers ’n blinde oog gedraai het vir die lyding van landelike gemeenskappe?”
Die DA in Lejweleputswa eis nou onmiddellike ingryping en rehabilitasie van die R64, 'n omvattende plan vir alle distrikpaaie wat in duie stort en verantwoording van die provinsiale departement van paaie en vervoer vir jare se verwaarlosing.
“Ons mense verdien waardigheid, veiligheid en geregtigheid. Die R64 is nie net 'n pad nie en het ’n simbool van die regering se onverskilligheid geword. Ons sê genoeg is genoeg.”
OFM Nuus dg