Central SA
Vrae ná Potch-man se steekdood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:05 Wed, 01 Oct 2025

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n Potchefstroomse man wat met ’n steekwond in sy nek aangetref is nie.
Chris van der Wal (31) se liggaam is Sondag (28/9) in die middestad gekry, sê lt.kol. Sam Tselanyane, provinsiale poliewoordvoerder. “Die polisie in Potchefstroom het sedertdien ’n saak van moord geopen en ondersoek die saak.
“Die oorledene is met ’n steekwond in die nek gevind. In hierdie stadium is geen verdagtes aangekeer nie.”
‘Van der Wal is op die toneel dood’
Johan Barnard, sy swaer, het aan OFM Nuus vertel CCTV-beeldmateriaal wys na bewering hoe Van der Wal oor die N12 in Potchefstroom se middedorp hardloop terwyl hy aan sy nek vashou, voordat hy buite ’n eetplek ineengestort het.
“Dit is egter onduidelik hoe lank hy daar gelê het voordat veiligheidswagte hom raakgesien en hulp ontbied het,” sê Barnard.
Van der Wal is op die toneel dood. Barnard is omstreeks 03:40 deur Van der Wal se werkgewer gebel om hom te identifiseer.
Die polisie soek drie verdagtes ná ’n moord in Bloemspruit. Foto: iStock
“Chris se beursie en ID was nog in sy sak, so ek kon bevestig dat dit hy was,” sê Barnard. Hy en sy vrou, Erika, het Klerksdorp toe gery om die nuus aan Van der Wal se ma, Alet, en stiefpa, Japie de Ridder, oor te dra.
Van der Wal se familie beskryf hom as spontaan, vriendelik en altyd bereid om te help. Hy was stil van geaardheid en ’n kitaarspeler, wat daarvan gehou om tyd saam met familie deur te bring.
Van der Wal was ’n voormalige leerder aan die Hoërskool Ferdinand Postma het sewe jaar as ’n gastegnikus by Gas World gewerk.
Uit saam met vriend
Barnard glo Van der Wal was saam met ’n vriend uit voordat hy op pad was terug na sy huis op Die Bult, sowat 8 km ver.
Sy familie was ontsteld om te hoor dat sy slimhorlosie, selfoon, bakkie en huissleutels in iemand anders se besit gevind is. “Hierdie besittings is deur een van sy kollegas aan die familie terugbesorg. Sy voertuig was steeds by sy woning geparkeer,” sê Barnard.
Van Der Wal se afskeidsdiens vind Vrydag (3/10) om 10:30 plaas in die AGS-kerk Miederpark, Potchefstroom.