On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse katteorganisasie vra steun om reddingswerk voort te sit

───   ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 03 Oct 2025

Bloemfonteinse katteorganisasie vra steun om reddingswerk voort te sit | News Article
’n Bloemfonteinse kattereddingsorganisasie vra steun om sy reddingswerk voort te sit. Foto verskaf

Die Bloemfonteinse organisasie Wolwange Charity het dringend hulp nodig om sy veeartsrekeninge te betaal sodat hy kan aanhou om rondloper- en mak katte se lewe te red en die diere te versorg tot hulle aangeneem word.

Met meer as 270 katte in sy sorg sukkel die organisasie met die koste van sterilisasie, inentings, noodbehandeling en postoperatiewe versorging. Hierdie mediese ingrypings is noodsaaklik om lyding te verminder en die bevolking rondloperkatte op ’n menslike wyse te beheer.

Wolwange is al jare aan die voorpunt van katversorging in die stad. Tanya Badenhorst, stigter en direkteur van die organisasie, sê Wolwange Charity is verantwoordelik vir die vang, sterilisasie en vrylating van hawelose katte, onderhou voedingspunte, bou skuilings en red klein katjies vir aanneming.

Ondanks beperkte hulpbronne werk vrywilligers onvermoeid om die gesondheid en veiligheid van katte te verbeter; baie leef as’t ware onsigbaar in Bloemfontein se strate, op plase en in openbare ruimtes.


“Ons sorg tans vir meer as 270 rondloperkatte,” sê Badenhorst. “Ons werk nou saam met vrywillige versorgers om te verseker dat die katte gesteriliseer, gevoed en beskerm word.

“Ons pogings word moontlik gemaak deur klein geldsinsamelings soos die verkoop van eiers, blomme en kolwyntjies, maar die behoefte neem steeds toe. Ons veeartsrekening staan op oor die R10 000, en ons probeer dit verminder deur ’n sterk vennootskap met veeartse.”

Om Wolwange te help om die veeartsrekening te betaal en sy lewensreddende werk voort te sit, kan mense op verskeie maniere bydra. Besoek die organisasie se sosialemedia-platforms, ondersteun spesifieke veldtogte soos sterilisasieprojekte of katjiesreddingspoging, of help met geldelike skenkings of deur veeartsrekeninge direk te betaal.

Wolwange red klein katjies vir aanneming. Foto verskaf

In Januarie sal die organisasie ’n grootskaalse sterilisasieveldtog aanbied in samewerking met Let’s Face South Africa en ander vennote. Hierdie projek sal help om die rondloperkat-bevolking op ’n menslike en volhoubare manier te beheer, sê Badenhorst.

Om hierdie projek suksesvol aan te bied, het Wolwange dringend aanvaarbare vanghokke en vervoerhokke nodig om katte veilig te vang en vervoer, asook verblyf en etes vir ses veeartsvrywilligers wat oor ’n tydperk van ses dae sal help.

Skenkings aan die organisasie dek sterilisasie, noodsorg, inentings en postoperatiewe versorging vir rondloper- en “gemeenskapskatte”.


Wolwange spits hom ook daarop toe om die publiek op te voed oor die rol van rondloperkatte in stedelike ekostelsels, die belang van sterilisasie, en verantwoordelike pleegsorg.

Op langtermyn hoop die organisasie om ’n besoekersruimte in Bainsvlei te vestig vir skole en gesinne. Daar sal die publiek katjies, wat beskikbaar is vir aanneming, kan ontmoet,  saam met inwonende katte kan kuier – waarvan baie spesiale behoeftes het – en meer kan leer oor die versorging van hawelose katte.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.