On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vryburg-speurders op borgtog vrygelaat in veediefstalsaak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:51 Fri, 03 Oct 2025

Vryburg-speurders op borgtog vrygelaat in veediefstalsaak | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Drie speurders van Vryburg en nog ’n man word aangekla van veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom nadat vee van ’n plaas by Broedersput verdwyn het.

Die speurders van Vryburg is Dinsdag (30/9) in hegtenis geneem nadat hulle na bewering vee gesteel het van ’n plaas in die omgewing van Broedersput, sowat 40 km noordoos van die dorp, sê Sam Tselanyane, provinsiale polisiewoordvoerder. Die beamptes is borgtog toegestaan, maar word in November weer in die hof verwag.

“ ’n Boer van die omgewing het verskeie van sy skape vermis en op veiligheidsbeeldmateriaal gesien hoe ’n wit bakkie op sy eiendom sien rondry. Die registrasienommer is na die Vryburg-speurtak nagespeur.”

Die polisie het die spore gevolg na ’n huis in Dithakwaneng, waar die karkasse van verskeie skape ontdek is. Tselanyane sê die speurders en die man by wie se huis die vleis gevind is, is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte wat veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom insluit.

Minister bekommerd

John Steenhuisen, landbouminister, is erg bekommerd oor veediefstal en veral die beweerde betrokkenheid van wetstoepassers daarby. “Veediefstal teister ons boerderygemeenskappe en is ’n direkte aanslag op landelike inkomste en voedselsekerheid.

“Dit veroorsaak geweldige ekonomiese lyding en emosionele nood vir ons boere – die ruggraat van ons landbousektor. Dat polisiebeamptes na bewering by hierdie veragtelike misdaad betrokke is, is absoluut skandelik en ’n growwe skending van openbare vertroue.”

Hy loof die beamptes wat hul kollegas in hegtenis geneem het. “Die inhegtenisgemings bewys die doeltreffendheid van samewerking in die bekamping van misdaad op die platteland en op plase.”

Polisielede geloof

Sello Lehari Morweng, LUR vir gemeenskapsveiligheid, beklemtoon dat die inhegtenisnemings ’n duidelike boodskap oordra dat niemand bo die reg verhewe is nie.

“Om die stelsel skoon te maak en die vertroue van gemeenskappe in wetstoepassing as geheel te herstel, moet ons diegene in ons geledere in hegtenis neem wat die wet oortree. 

”Ons verwelkom hul inhegtenisneming en loof die polisie wat die reg oordeelkundig toepas,” sê Morweng.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.