Central SA
Vrae oor eerbewys vir JB Marks as beste munisipaliteit in Noordwes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:34 Thu, 09 Oct 2025

Vrae word geopper oor ’n eerbewys wat ’n munisipaliteit in Noordwes ontvang het as die beste presterende munisipaliteit in die provinsie.
Kommer word gelug oor die regverdigheid en deursigtigheid van die keuringsproses. AfriForum, wat die toekenning aan die die JB Marks-munisipaliteit betwis, voer aan dié soort erkenning moet gegrond wees op duidelike, meetbare kriteria wat dienslewering en bestuurstandaarde akkuraat weerspieël.
“AfriForum se Potchefstroom-tak het formeel aan die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (Sapoa) geskryf en versoek dat die volledige assesseringskriteria en -prosesse wat gebruik is om JB Marks as die beste presterende munisipaliteit in Noordwes te kies, openbaar gemaak word,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum in die Mooirivier-streek.
JB Marks as beste munisipaliteit in Noordwes gekroon. Foto: Facebook
Sapoa het die wenners op 2 Oktober op ’n galageleentheid by Sun City aangekondig.
Pretorius sê terwyl AfriForum erkenning vir effektiewe munisipale bestuur verwelkom, meen die organisasie hierdie spesifieke toekenning is kommerwekkend gegewe die volgehoue uitdagings waarmee inwoners in Potchefstroom, Ventersdorp en omliggende gebiede te kampe het wat dienslewering betref.
“Hierdie kwessies sluit in gereelde waterlekkasies, rioolbesoedeling en -blokkasies, wanfunksionele straat- en verkeersligte, verbleikte padstrepe en verswakkende paaie vol slaggate.”
‘Eskom-skuld het in minder as twee jaar tot meer as R500 miljoen toegeneem’
Sy sê verder het die munisipaliteit se Eskom-skuld in minder as twee jaar van geen tot meer as R500 miljoen toegeneem, terwyl sleutelamptenare, insluitend die munisipale bestuurder, na bewering ondersoek word vir korrupsie.
“In sy brief versoek AfriForum die volgende inligting moet aan die publiek beskikbaar gestel word: die kriteria en gewigsfaktore wat in die assessering gebruik is; die name en (bevestiging van die) onafhanklikheid van die assesseringspaneel; die data of bewyse wat deur die munisipaliteit ingedien is; en of kwessies soos diensleweringsmislukkings, finansiële wanbestuur en korrupsie-ondersoeke oorweeg is.”
Volgens Pretorius is dit ondenkbaar dat ’n munisipaliteit wat deur sulke ernstige uitdagings in die gesig gestaar word, as die beste presteerder in die provinsie aangewys kan word.
Ondermyn openbare vertroue
“Tensy die assesseringsproses en kriteria deursigtig gemaak word, loop sulke toekennings die gevaar om openbare vertroue te ondermyn en hoogs twyfelagtig voor te kom.”
Pretorius sê deursigtigheid en verantwoordbaarheid is ononderhandelbaar wanneer plaaslike regeringsprestasie beoordeel word, “veral wanneer gemeenskappe daagliks die gevolge van swak bestuur direk ervaar”.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs/mvh