Central SA
Waterkrisis in Frankfort en omgewing duur voort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:43 Tue, 14 Oct 2025

’n Dringende beroep is op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gedoen om onmiddellik in te gryp waar inwoners al meer as twee maande sonder water is.
Inwoners van Frankfort wag al byna nege weke vir die Mafube-munisipaliteit om op te tree en die watertoevoer te herstel. ’n Waterpomp is nodig om volhoubare watervoorsiening te verseker.
“Die provinsiale departement het reeds in September aangedui ’n nuwe waterpomp sal binne ’n paar dae beskikbaar gestel word en erken dat die munisipaliteit nie oor die nodige fondse beskik nie. Nege weke later het niks gebeur nie,“ sê Heloïse Denner, VF Plus-raadslid en kiesafdelinghoof in die munisipaliteit.
Vyf uur per dag water
Velenkosini Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is nou genader om dringend in te gryp.
Saki Mokoena, LUR, het self bevestig die departement sou die pomp verkry. Tot op hede is daar egter geen vordering gemaak nie. Intussen word inwoners van Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling in desperate omstandighede gelaat – al is die munisipaliteit sedert 2017 onder provinsiale administrasie.
Frankfort het ongeveer vyf uur per dag water, Cornelia gaan dikwels vir etlike dae sonder water en Villiers het nie meer chemikalieë wat nodig is vir watersuiwering nie. Die oorblywende chemiese voorrade vir Frankfort, Cornelia en Tweeling sal na verwagting binne ’n week uitgeput wees.
Dienslewering tot stilstand
Denner sê dienslewering het heeltemal tot stilstand gekom. Voertuie het nie diesel, raadslede het nog nie hul salaris ontvang nie en sal waarskynlik nie in Oktober of November betaal word nie en die munisipaliteit se invorderingskoers het tot slegs 14% gedaal. Dit is die laagste in sy geskiedenis.
“Dit is duidelik die Vrystaatse Cogta se provinsiale ingryping het misluk. Mafube is nou in ’n slegter toestand as voor die sogenaamde reddingsoperasie. Dit is onaanvaarbaar dat beloftes rondom die lewering van ’n enkele waterpomp vir nege weke onvervul bly terwyl inwoners sonder water is.”
Die VF Plus het die minister formeel versoek om die onmiddellike verkryging van die pomp te fasiliteer en deursigtigheid en verantwoordbaarheid van beide die provinsiale departement en die plaaslike munisipaliteit af te dwing.
“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg en die regering se voortgesette versuim om noodsaaklike infrastruktuur te onderhou en te herstel, is heeltemal onaanvaarbaar.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.