On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

International

Wapenstilstand in Gasa: Israeliese troepe onttrek, gyselaarooreenkoms in werking

───   12:38 Fri, 10 Oct 2025

Wapenstilstand in Gasa: Israeliese troepe onttrek, gyselaarooreenkoms in werking | News Article
Palestyne het Vrydag na hul woongebiede begin terugkeer. Foto: https://www.bbc.com

Die Israeliese weermag (IDF) het bevestig dat die wapenstilstandooreenkoms tussen Israel en Hamas amptelik om 12:00 plaaslike tyd (en SA tyd) in werking getree het.

Troepe het begin onttrek na voorafbepaalde posisies, bekend as die “geel lyn”, wat deel vorm van pres. Donald Trump van die VSA se plan vir die toekoms van Gasa, berig Deutsche Welle. “Sedert 12:00 het IDF-troepe begin om hulself langs die opgedateerde ontplooiingslyne te posisioneer ter voorbereiding op die wapenstilstandooreenkoms en die terugkeer van gyselaars,” sê die IDF in ’n verklaring.

Volgens die ooreenkoms het Hamas nou 72 uur om al die oorblywende, lewende Israeliese gyselaars vry te laat. Daar word geglo dat 20 van die 48 gyselaars nog leef.  

Minstens 6 713 Palestyne is dood sedert Israel se oorlog teen Gasa begin het. Foto: X/Al Jazeera 

In ruil daarvoor sal Israel 250 Palestynse gevangenes vrylaat, wat tans lewenslange vonnisse uitdien.

Die ooreenkoms, wat gedeeltelik deur die Verenigde State bemiddel is, is omstreeks middernag deur die Israeliese regering goedgekeur. Die kantoor van premier Benjamin Netanyahu bevestig op X: “Die regering het pas die raamwerk vir die vrylating van al die gyselaars – die lewendes en die oorledenes – goedgekeur.”

Die wapenstilstand vorm deel van fase een van Trump se Gasa-strategie, wat fokus op die beëindiging van geweld en die vrylating van gyselaars. Latere fases sal die bestuur van Gasa hanteer.

Hulpvragmotors sal bystand bied

Die stemming in Gasa is Vrydag wisselend: Van hoop dat vrede nou aanbreek, tot vrees vir wat voorlê. BBC-verslaggewers berig die Israeliese troepe het reeds begin onttrek uit sekere dele van die gebied. 

Sodra die ooreenkoms ten volle in werking is, sal hulpvragmotors die gebied binnegaan om bystand te bied aan die nagenoeg twee miljoen mense wat deur die konflik ontwortel is.

Die konflik het ontstaan ná die terreuraanvalle op 7 Oktober 2023, waarin sowat 1 200 mense in Israel dood is en 251 gyselaars geneem is. Sedertdien het Israel ’n grootskaalse militêreoperasie in Gasa geloods. 

Volgens die Gasa-gesondheidsministerie is meer as 67 000 Palestyne dood en byna 170 000 beseer, waarvan ongeveer die helfte vroue en kinders is. Die ministerie onderskei nie tussen burgerlikes en vegters nie.

Intussen het senior Amerikaanse amptenare aangekondig dat ’n militêre span van 200 lede na die Midde-Ooste gestuur sal word om die wapenstilstand te monitor. Die span sal deel wees van ’n groter taakspan wat ook verteenwoordigers van Egipte, Katar, Turkye en waarskynlik die Verenigde Arabiese Emirate insluit. 

Admiraal Brad Cooper van die Amerikaanse sentrale bevelstruktuur sal toesig hou oor die proses. “Geen Amerikaanse troepe sal egter Gasa binnegaan nie,” bevestig amptenare.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.