On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Skietstaking kom straks gou in Gasa-oorlog

───   08:37 Thu, 09 Oct 2025

Skietstaking kom straks gou in Gasa-oorlog | News Article
’n Beseerde Palestynse inwoner tussen die verwoesting in Gasa. Foto: Al Jazeera

Die Israeliese regering sou Donderdagaand (9/10) die eerste fase van ’n voorgestelde vredesooreenkoms vir Gasa aanvaar wat ’n keerpunt in die langdurige konflik kan inlui.

Pres. Donald Trump van Amerika het vroeër gesê Israel en Hamas het ingestem tot die eerste fase van sy voorgestelde vredesooreenkoms. Shosh Bedrosian, woordvoerder van Israel se premierskantoor, het vroegmiddag gesê die skietstilstand in Gasa kan binne 24 uur begin nadat die kabinetslede ingestem het tot die bepalings van fase een. 

Hierdie fase is vroeër die dag in Egipte goedgekeur. Bedrosian het die moontlike tydlyn van gebeure op ’n media-inligtingsessie uiteengesit, berig BBC.

Die kabinetsvergadering sou 17:00 plaaslike tyd plaasvind, gevolg deur ’n regeringsvergadering ’n uur later. Indien fase een goedgekeur word, sal die Israeliese weermag nuwe stellings inneem aan ’n linie wat hulle in staat stel om ongeveer 53% van die Gasa-strook te beheer. 

Gyselaars Maandag vry

Dit vorm deel van die ooreenkoms se implementeringsplan. Ná die herposisionering sal Hamas ’n venstertydperk van 72 uur hê om die oorblywende gyselaars aan Israel terug te besorg. 

Bedrosian se verklaring was in weerwil van vroeëre berigte wat gelui het die skietstilstand sou onmiddellik in werking tree ná regeringsgoedkeuring. 

Die aanvanklike ooreenkoms behels die vrylating van Israeliese gyselaars en Palestynse gevangenes, die onttrekking van Israeliese magte uit Gasa, en die deurlaat van humanitêre hulp na die beleërde gebied.

Amerika het aangedui alle oorblywende Israeliese gyselaars sal teen Maandag vrygelaat kan word, afhangende van die finale reëlings.

Feesvieringe breek uit

Feesvieringe het in Gasa en oor Israel heen uitgebreek, veral onder gyselaars se families, ná intense onderhandelinge in Egipte wat die deurbraak moontlik gemaak het.

Benjamin Netanyahu, Israel se premier, het die ooreenkoms beskryf as “ ’n wonderlike dag” vir sy land, terwyl sy Britse ampsgenoot, Keir Starmer, dit ’n “oomblik van diep verligting” genoem het wat wêreldwyd gevoel sal word.

Tom Fletcher, die VN se koördineerder vir noodleniging, het die ooreenkoms ook verwelkom en dringende humanitêre optrede aangemoedig, berig Deutsche Welle. “Goeie nuus. Laat ons die gyselaars uitkry en hulp vinnig instuur.” 

Aanvalle gaan voort

Hy het bevestig dat VN-spanne gemobiliseer is om hulp op grootskaalse vlak te lewer, mits veilige toegang verseker word.

Intussen het die Israeliese weermag Palestyne gewaarsku om nie noordwaarts na Gasastad terug te keer of die gebied te nader waar daar steeds soldate is nie. Die waarskuwing, op X uitgereik deur die Arabies-sprekende weermagwoordvoerder Avichay Adraee, het ure ná die aankondiging van die ooreenkoms verskyn.

Ondanks die ooreenkoms is voortgesette lugaanvalle steeds in die noorde van Gasa aangemeld.

• Hierdie is ’n aangepaste weergawe van die vroeëre berig wat op OFM Nuus verskyn het. 

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.