Central SA
Noord-Kaap slaggereed vir matriekeksamen─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:09 Thu, 16 Oct 2025

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sê hy is slaggereed vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen.
Alle die nodige voorbereidings is getref om te verseker vanjaar se matriekeksamen verloop glad, veilig en suksesvol. Die eksamen duur van 23 Oktober en tot 27 November wanneer 16 056 geregistreerde kandidate –14 210 voltyds en 1 846 deeltyds – sal skryf, sê Geoffrey van der Merwe, provinsiale onderwyswoordvoerder.
Die Noord-Kaap het verlede jaar ’n matriekslaagsyfer van 84,2% behaal, vergeleke met 76,5% vyf jaar vantevore. Die departement is vol vertroue vanjaar se matrieks sal hierdie opwaartse tendens kan handhaaf en streef daarna om die nasionale gemiddelde te oortref, sê Van der Merwe.
Die eksamen duur van 23 Oktober en tot 27 November. Foto ter illustrasie: iStock
Om leerders te help om hul beste te presteer, het die departement verskeie ondersteuningsprogramme ingestel, veral vir gevorderde en grensgevalkandidate, soos vakklinieke, uitsaailesse en digitale lesse, Saterdag- en naweekklasse, vakansiekampe, psigososiale ondersteuning en bykomende leermateriaal.
Daarmee wil die departement akademiese en emosionele ondersteuning dwarsdeur die eksamenperiode bied, sê Van der Merwe.
“Al 148 eksamensentrums dwarsoor die provinsie is geouditeer en goedgekeur. Streng sekerheid- en moniteringstelsels sal die integriteit van die eksamen handhaaf.”
Misbruik van elektroniese toestelle
Altesaam 148 hoofopsieners is aangestel en opgelei om toesig te hou oor die proses en enige onreëlmatighede, soos bedrog of die misbruik van elektroniese toestelle.
Al 81 vraestelle is deur die nasionale departement van basiese onderwys opgestel en sal onder streng sekerheid gedruk, verpak en versprei word sodat elke kandidaat sy vraestel betyds ontvang.
Sodra die eksamen afgehandel is, vind die nasienwerk van 1 tot 12 Desember by drie aangewese sentrums plaas.
Die nasienspan sluit in:
- 916 nasieners;
- 186 senior nasieners;
- 85 hoofnasieners;
- 21 adjunknasieners;
- 85 interne moderators;
- 3 sentrumbestuurders;
- 6 adjunksentrumbestuurders; en
- 250 eksamenassistente.
Die nasionale uitslae word na verwagting op 8 Januarie deur die minister van basiese onderwys aangekondig, gevolg deur die bekendmaking van provinsiale uitslae in die Noord-Kaap op 9 Januarie, tesame met die provinsie se jaarlikse matriektoekenningseremonie.
Eerlikheid, dissipline en selfvertroue
“Die departement betuig graag sy dank aan onderwysers, ouers en gemeenskappe vir hul volgehoue ondersteuning en beklemtoon die matriekeksamens is nie net ’n mylpaal vir leerders nie, maar ook die hoogtepunt van ’n twaalf jaar lange vennootskap tussen die owerheid, gesinne en opvoeders,” sê Van der Merwe.
Ouers word aangespoor om hul kinders aan te moedig en te lei gedurende hierdie kritieke tyd, terwyl leerders daaraan herinner word om hul eksamen met eerlikheid, dissipline en selfvertroue te benader.
“Ons glo die klas van 2025 sal die geleentheid aangryp en die Noord-Kaap trots maak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.