Central SA
Woede oor Gauteng-onderwys se drastiese subsidieverlagings aan ‘ryk’ skole─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:20 Fri, 17 Oct 2025

Woede heers oor die Gautengse departement van onderwys se besluit om subsidies aan kwintiel 5-skole van R900 tot slegs R315 per leerder te verlaag.
Dié besluit, saam met die afskaffing van departementele onderwysposte, laat vrese ontstaan oor oorvol klaskamers, finansiële onstabiliteit en ’n nadelige uitwerking op onderriggehalte.
Die VF Plus kritiseer die besluit as onregverdig en die gevolg van swak beplanning wat Afrikaanse skole die swaartste gaan tref wanneer dit volgende jaar ingevoer word.
“Die skielike vermindering is ’n indirekte, maar duidelike aanval op Afrikaanse skole in Gauteng,” meen adv. Anton Alberts, Gautengse VF Plus-wetgewerlid. “Dit plaas hulle onder ernstige finansiële druk en bedreig die voortbestaan van gehalte Afrikaanse onderwys.”
Resep vir chaos
Die meeste skole het reeds hul 2026-begrotings gefinaliseer en ouers oor skoolgelde ingelig, voeg hy by. “Die verandering van hulpbrontoewysings twee maande voor die einde van die skooljaar is ’n resep vir chaos en ’n klap in die gesig van verantwoordelike finansiële bestuur.”
Die VF Plus sal direk met Matome Chiloane, onderwys-LUR, in gesprek tree om duidelikheid te eis oor waarom slegs kwintiel 5-skole geraak word en waarheen die geld gaan wat hertoegeken word.
AfriForum veroordeel ook die besnoeiings en waarsku die besluit kan ’n ernstige uitwerking op onderriggehalte hê. “Voller klaskamers en minder individuele aandag … sal van die gevolge van hierdie stap wees,” sê Alana Bailey, die burgerregtegroep se kultuursakehoof.
Begrotingsuitdagings is ’n werklikheid
“Hoewel begrotingsuitdagings ’n werklikheid is, dit onaanvaarbaar is dat ouers verwag word om ’n groeiende finansiële las te dra terwyl hul magte verminder word. AfriForum stel ’n model voor wat finansieel onafhanklike skole meer vryheid gee om oor hul etos, kurrikulum en bestuur te besluit.”
Die organisasie het herhaaldelik vir hierdie model gevra, ook tydens voorleggings oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela), voeg Bailey by. “Die finansiële druk wat veroorsaak word deur swak beplanning, gekombineer met die implementering van verpligte gr. R, beteken weereens dat dit leerders en ouers is wat die prys moet betaal.”
AfriForum se regspan hersien die besluit om te bepaal of regstappe gedoen kan word om die besnoeiings te betwis.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.