On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Eindeksamen begin – Vrystaatse leerders aangemoedig om uit te blink

───   ZENANDE MPAME 12:16 Tue, 21 Oct 2025

Eindeksamen begin – Vrystaatse leerders aangemoedig om uit te blink | News Article
Vrystaatse leerders word aangemoedig om uit te blink in die eindeksamen. Foto: Facebook/Free State department of education

Die Vrystaatse onderwysdepartement is volle vertroue alles is slaggereed vir die matriekeindeksamen – leerders kan bloot deeglik voorbereid opdaag en skryf.

Met die aanvang van die 2025 eindeksamen het die departement leerders aangemoedig om hierdie belangrike fase met selfvertroue en vasberadenheid te betree. Die departement herbevestig sy verbintenis om te verseker elke kandidaat, veral dié in sleutelvakke soos rekenaartoepassingstegnologie (RTT), wiskunde, wetenskap en handelsvakke, ontvang die nodige ondersteuning om sukses te behaal.

Dr. Julia Maboya, onderwys-LUR, het Dinsdag (21/10) die begin van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen waargeneem by die Sekondêre Skool St. Bernard in Botchabela, waar 82 leerders die RTT-eksamen geskryf het.

“Die rede waarom ek julle skool gekies het, is omdat julle die grootste getal leerders in die distrik het wat RTT skryf,” het Maboya gesê. “Dis ook bemoedigend dat julle ook wiskunde en wetenskap neem, en sommige van julle ook handelsvakke.


“Hierdie ‘toegangsvakke’ is belangrik en gaan vir julle geleenthede ontsluit. Dít is wat die ekonomie van hierdie land nodig het. Wees vol vertroue dat julle die regte keuses gemaak het.

“Ek wens julle alle sterkte toe met die eksamen. Dit is net die begin, en sodra julle dié een regkry, gaan die res maklik volg. Ons sien mekaar weer in Januarie by SUT vir die gelukwensingsgeselligheid.”

Die skool se gereedheid is ook geprys – albei rekenaarlaboratoriums is ten volle toegerus, en ’n tegnikus is byderhand om enige tegniese probleme te hanteer. Rugsteunkragopwekkers is beskikbaar om te verseker dat die eksamens sonder onderbreking voortgaan.


Die departement bevestig hy is vasbeslote om sy nasionale topprestasie te handhaaf, met ’n ambisieuse teiken van ’n algehele slaagsyfer van 95% en ’n BA-toelatingslaagsyfer van 50%.

Voorbereidings vir die nasienproses is reeds aan die gang. Altesaam 20 nasienentrums is reeds geïdentifiseer en geïnspekteer. Hoogs geskoolde en ervare nasieners is aangestel, sê die departement.

Die nasien vind plaas van Vrydag 28 November tot Vrydag 12 Desember, waarna voorbereidings vir die amptelike bekendmaking van die uitslae sal begin.

Die Wes-Kaapse regering het verlede week aangekondig die matriekuitslae word Maandagaand 12 Januarie 2026 amptelik bekend gemaak. Leerders sal hul individuele uitslae vanaf Dinsdag 13 Januarie kan bekom.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.