Central SA
Verdagte Woensdag weer voor ná aanval op Noordwes-plaas─── REFILWE BEKANE 09:00 Wed, 22 Oct 2025

’n Voormalige plaaswerker verskyn weer Woensdag (22/10) in die Potchefstroom-landdroshof in verband met ’n voorval waarin ’n boer en sy gesin op sy plaas in die Buffelshoek-gebied net meer as ’n week gelede aangeval en beroof is.
George Mbela (48), ’n voormalige werknemer op die plaas, word aangekla van roof, aanranding en die diefstal van ’n motorvoertuig ná die aanval Sondag 12 Oktober. Hy bly in aanhouding.
Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het Mbela verlede Woensdag (15/10) vir die eerste keer in die hof verskyn ná die rooftog waarin die boer boer (70), sy 68-jarige vrou en 34-jarige dogter op hul plaas aan die R500 (Parys/Fochville-pad) aangeval is.
’n Voormalige plaaswerker verskyn weer Woensdag (22/10) in die Potchefstroom-landdroshof. Foto ter illustrasie: iStock
Daar word beweer dat die verdagte eers die boer se vrou en dogter binne ’n pakhuis oorweldig het, waar hy hulle na bewering aangerand het voordat hy hulle toegesluit het.
“Hy het glo die paar aangerand en hulle toe in die pakhuis toegesluit. Hy is daarna na die plaashuis, waar hy die boer oorweldig en aangerand het voordat hy met die egpaar se Toyota Hilux-bakkie van die toneel af weggery het,” sê Myburgh.
Die slagoffers kon hulself later bevry en het onmiddellik die polisie en naburige boere oor die voorval ingelig. Mbela het hom Maandag (13/10) by die polisie in Parys oorgegee, nadat die gesteelde Hilux verlate in die omgewing gevind is.
Daar word beweer dat die verdagte eers die boer se vrou en dogter binne ’n pakhuis oorweldig het. Foto ter illustrasie: iStock
Die boer, sy vrou en dogter het almal mediese hulp ontvang. Die boer is oornag in ’n nabygeleë hospitaal opgeneem en die volgende dag ontslaan.
Intussen is Karabo Lipson Matlala (23) Maandag 13 Oktober deur die Wolmaransstad-polisie op die N12 tussen Klerksdorp en Wolmaransstad in hegtenis geneem in verband met voertuigdiefstal.
“Terwyl hy die voertuig getoetsbestuur het, het hy by ’n winkel langs die N12 in Klerksdorp stilgehou en die handelaar se verteenwoordiger gevra om vir hulle ’n koeldrank te gaan koop.
Karabo Lipson Matlala (23) is in hegtenis geneem in verband met voertuigdiefstal. Foto ter illustrasie: iStock
“Hy het egter met die voertuig weggery,” sê Myburgh. Die voertuig is later weer opgespoor.
Matlala het op Woensdag (15/10) in die Wolmaransstadse landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig en diefstal. Hy bly in aanhouding hangende 'n formele borgaansoek, wat vir Vrydag (24/10) geskeduleer is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh