Central SA
OFM Bowling4Boobies gryp Sentraal-Suid-Afrika aan die hart─── REFILWE BEKANE 13:30 Wed, 22 Oct 2025

Oktobermaand is sinoniem met PinkTober in Sentraal-Suid-Afrika, en OFM se jaarlikse insamelingsveldtog, Bowling4Boobies, ter ondersteuning Kansa se stryd teen borskanker, is reeds ’n reusesukses.
Dié gemeenskapsgedrewe projek het alle verwagtinge oortref, danksy die oorweldigende ondersteuning van luisteraars en ondernemings dwarsoor OFM se uitsaaigebied, sê Anchen Lintvelt, OFM se verkoop-en-bemarkingsbestuurder. Die projek, wat op verskeie dorpe plaasvind, bring gemeenskappe byeen vir ’n goeie doel.
Die spangees en die vriendelike kompetisie tussen dorpe oor wie die meeste geld kan insamel, het ’n onvergeetlike atmosfeer geskep, wat sy beskryf as “ongelooflik”.
“Die betrokkenheid wat ons sover van die gemeenskap gesien en ervaar het, is net oorweldigend,” sê Lintvelt.
Mikpunt behoorlik oortref
In ’n vroeë en historiese mylpaal het Bowling4Boobies sy aanvanklike mikpunt reeds Donderdag(16/10) bereik.
Danksy die vrygewigheid van borge, adverteerders, en die gemeenskap, het die veldtog vroeër as verwag sy teiken behaal, vertel Lintvelt. Enige verdere bydrae wat nou ontvang word, dien as ’n bonus om Kansa se dienste nog verder uit te brei.
Lintvelt beklemtoon dat die spangees en die vriendelike kompetisie tussen dorpe oor wie die meeste geld kan insamel, het ’n onvergeetlike atmosfeer geskep, wat sy beskryf as ongelooflik. Foto: Breyton Baadjies
Die groot sukses word nie slegs gemeet aan die geld nie, maar ook aan die belangstelling. Lintvelt sê die spanaansoeke vir die geleenthede was in ’n rekordtyd uitverkoop.
Sy wys daarop dat die sukses ook gemeet word in die groeiende bewustheid van borskanker en vroeë diagnose. “Die Bowling4Boobies is so suksesvol … en die geld wat ons daar invorder, is net elke keer ongelooflik,” sê Lintvelt.
Raak só betrokke
Vir diegene wat nie die spangeleenthede kon bywoon nie, is daar steeds ’n maklike alternatief om deel te neem: Skenk aanlyn.
Lintvelt moedig mense aan om OFMPinkTober.co.za te besoek om op ’n eenvoudige manier met ’n kredietkaart of direkte betaling by te dra. Daar is geen beperking op die bedrag nie.
“Elke sent wat geskenk word of uitgegee word deur die mense wat ons ondersteun, gaan nét so vir die insameling.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.