Central SA
Verdagte binnekort in Clocolan-hof ná groot nyaope-vonds─── 13:00 Wed, 29 Oct 2025
’n Vrystaatse vrou verskyn binnekort in die landdroshof op Clocolan nadat sy betrap is met ’n groot hoeveelheid dwelms.
Die provinsiale teenbende-eenheid, wat tans in die omgewing van Ficksburg ontplooi is, het op ’n wenk gereageer en ’n verdagte (24) in hegtenis geneem. Beamptes het beslag gelê op ’n aansienlike hoeveelheid nyaope en mandrax.
“Dinsdag (28 Oktober) omstreeks 21:00 het beamptes inligting ontvang oor ’n man en vrou wat glo dwelms tussen Clocolan en Ficksburg vervoer,” sê die polisiewoordvoerder, sersant Mahlomola Kareli.

Die geskatte straatwaarde van die herwonne dwelms is R11 000. Foto: SAPS
Die polisie het aanvanklik beplan om die verdagtes se woning in Thethe, Clocolan, te besoek.
Op pad daarheen het hulle egter nuwe inligting gekry dat die hoofverdagte van Johannesburg af op pad was nadat sy glo ’n groot besending dwelms gaan afhaal het.
Die span het onmiddellik gereageer en ’n padblokkade op die R26 naby Clocolan opgerig. Tydens die deursoeking is ’n groot hoeveelheid nyaope in die verdagte se besit gevind.
‘Geskatte straatwaarde van die herwonne dwelms is sowat R11 000’
By haar huis het beamptes later nog twee mandrax-tablette ontdek en beslag gelê op ’n bedrag kontant wat vermoedelik uit dwelmverkope afkomstig is.
“Die geskatte straatwaarde van die herwonne dwelms is sowat R11 000,” sê Kareli.
Die polisiebestuur in die Vrystaat het intussen die teenbende-eenheid geloof vir hul onwrikbare toewyding aan die stryd teen dwelmhandel en hul volgehoue pogings om gemeenskapsveiligheid te versterk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

