On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Dirkie se verruklike tuin aan Renosterspruit gryp verbeelding aan

───   SUSAN MARÉ 07:00 Fri, 31 Oct 2025

Dirkie se verruklike tuin aan Renosterspruit gryp verbeelding aan | News Article
Dirkie Herholdt se pragtuin aan die Renosterspruit. Foto verskaf

Een van die verruklikste tuine in Bloemfontein is dié van Dirkie Herholdt aan die walle van die Renosterspruit, waar elke beskikbare sentimeter van die sowat 2 ha m ’n lushof is van plante, bome, struike, blomme – en meer as 5 000 roosbome.

Dirkie en haar man, Bernhard, woon al sedert 1978 saam op hul hoewe wat net as ’n stukkie hemel op aarde en ’n rosehemel beskryf kan word. Dit is ook die tuiste van duisende kwetterende en singende voëls.

Dirkie is op Philippolis gebore, het op Queenstown skoolgegaan en was later ’n leerling aan die Hoërskool Eunice in Bloemfontein. Haar liefde vir tuinmaak het begin toe sy en ’n vriendin, Jeanne Stoltz, besluit het om ’n kwekery hoofsaaklik met rose te begin. 

So is Roses for U op die been gebring. Saam was hulle ’n uitstekende span – Dirkie met haar sakeagtergrond van 32 jaar by Nedbank, en Jeanne met haar plantkennis. 

Bernhard en Dirkie Herholdt. Foto verskaf

Ná sewe jaar is hulle deur hul bure genader om die onderneming te koop. Vir albei se eggenote was dit ’n onomwonde ja – hoewel die twee vennote baie gehuiwer het.

Dirkie het ná die vloed van 1988 begin om haar tuin te herrangskik en sê sy het geen kennis van plante of tuinmaak gehad nie. Toe Roses for U verkoop is, het sy ernstig aan haar tuin begin werk.

Vandag is ongeveer 2 ha van haar tuin – wat ook die vorige kwekery se tuine insluit – beplant en ’n lushof. Sy het twee werkers met ’n tuindienste-onderneming wat haar twee keer ’n week help. 

Die Renosterspruit is ’n wonderlike waterbron, en daarsonder sou sy nie op so ’n groot skaal kon tuinmaak nie, omdat hulle uit die spruit besproei.

Is dit goeie grond? “Nee, ongelukkig het ons kleigrond, en die botanis en skrywer wyle prof. Kristo Pienaar (1922-1996) het gesê as ’n mens kleigrond het, moet jy trek.” 

Sy het egter die grond oorwin met baie kompos, min kunsmis en baie boombas. “My spuitprogram bestaan uit blaarvoeding.”

Onder die siektebestande rose in haar tuin tel dié bos Not Simply Pink. Foto verskaf

“Vir goggas ensovoorts gebruik ek predatore wat alle goggas en insekte aanval – met die uitsondering van ladybugs (lieweheersbesies) en bye wat volop is. Die predatore voer ek direk in en dit word elke tweede jaar aangevul. 

“Dan spuit ek net my rose voorkomend vir swartvlek of enige ander swamme.”

Dirkie gebruik net plante wat die koue kan weerstaan – soos Nandinas, Buxus en Helebores, met alle soorte grassoorte as grondbedekkers. Die blomme is vir haar eie gebruik, maar haar vriende het toestemming om na hul behoefte te pluk.


Baie van die rose is vir die prag van die tuin en is nie juis plukrose nie. Daar is soveel nuwe rose dat sy nie juis aan gunstelinge dink nie – maar meer na siektebestande plante kyk. 

’n Paar van hulle in haar tuin is Anne Lorentz, Not Simply Pink, Zulu Royal, Garden Princess, South Africa, Garden Queen, Jealous Joey en Garden and Home. 

Die tuin wemel uiteraard van voëltjies, en daar is baie sithoekies. Hul plek se naam is For the Birds.

‘Wat gaan ek doen om so ’n tuin te kan hê?’

Die mooiste tuin wat sy al beleef het – en daar is baie – was dié van wyle Esther Geldenhuys op Kroonstad. “Dit was vir my ’n groot inspirasie. Ná my eerste besoek aan haar tuin het ek vir ’n week lank in ’n groot depressie verval met die gedagte: Wat gaan ek doen om so ’n tuin te kan hê? 

“Daarna het ek besluit, dis net ék wat dinge kan verander. Ek het toe aan die werk gespring om my tuin stukkie vir stukkie te verander.”

Sy verander steeds aan haar tuin wanneer dit nodig is. Dit is egter ’n reeds gevestigde tuin wat steeds onderhoud nodig het.

Dirkie Herholdt het ook baie sterjasmyn (Trachelospernum jasminoides) in haar tuin. Foto verskaf

“Ek sien ons Skepper se werk met my hande in my tuin, en kan soms nie die wonderwerk glo wat ek aanskou nie. Ek het egter nie meer die krag van vroeër dae om nog veranderings in my tuin aan te bring nie – en doen net wat nodig is. ’n Tuinier se voetspore is die beste voeding wat jy jou tuin kan gee. 

“Loop elke dag deur jou tuin en kyk waar jy wil verander. Ek en my man wil nie trek nie weens die mooi wat ons omring. Diep in jou is egter die besef: Die tyd mag kom. Ek wil nie daaraan dink nie. My gedagtes hieroor is maar vaag.” 

“God Almighty first planted a garden: and indeed it is the purest of human pleasures.” – Francis Bacon, The Essays

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré cvs 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.