Central SA
Polisie vra hulp met soektog na vermiste tiener van Warden─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:05 Sun, 02 Nov 2025
Die polisie sê die tienerseun word sedert Vrydag (31/10) vermis.
Thabiso Pone (15) was Vrydag in die tuin by sy huis in Warden besig toe hy gevra het om die toilet te gebruik. Hy het nooit teruggekeer nie, sê sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder.
“Toe sy ma hom ook nie by ’n vriend se huis kon kry nie het sy die saak onmiddellik by die Warden-polisiekantoor aangemeld.”
Die saak is oorgeplaas na Vrede se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe vir verdere ondersoek.
Beroep op publiek
Pone het tydens sy verdwyning ’n liggrys sweetpakbroek, ’n rooi T-hemp en swart tekkies aangehad.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om Pose op te spoor om 071 686 0414 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Anonieme wenke kan ook na die MySAPS-app gestuur word.
Geen wagtydperk
Die polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk om ’n persoon as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy of sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul ’n polisie 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word, direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n Polisie 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se verslag uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

