On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vincent-projek: Jong pa met kanker se stryd om lewe en hoop

───   08:00 Tue, 11 Nov 2025

Vincent-projek: Jong pa met kanker se stryd om lewe en hoop | News Article
Links is Vincent de Bruyn en sy seuns, LJ (7) en Vianro (3). Regs hou sy vrou, Roseleen, sy hand vas in die hospitaal. Foto verskaf

In November 2022 het Vincent de Bruyn die woorde gehoor wat enige jong pa se wêreld op sy kop sal draai: “Jy het kanker.”

Dit het aanvanklik begin met geswelde kliere in sy nek en ’n vreemde vergroeisel langs sy kop. Ná ’n doktersbesoek is dié pa van twee jong seuns se vergroeisel verwyder en na die laboratorium gestuur. 

Die eerste nuus was hoopvol: Dit was nie kankeragtig nie.Ongelukkig was die vroeë verligting van korte duur toe die uitslag later as ’n laboratoriumfout erken is. 

Vincent ontvang immunoterapiebehandeling in Januarie vanjaar. Foto verskaf

Toe Vincent se nekkliere in Kimberley verwyder is, is dit positief getoets vir derdegraadse melanoomkanker. Volgens Kansa kry ongeveer een uit elke 186 mans in Suid-Afrika dié soort kanker in hul leeftyd.

Vincent is na ’n onkoloog in Pretoria verwys, waar hy ’n nekdisseksie ondergaan het. Altesaam 33 kliere is uit sy nek verwyder. 

Skokkend genoeg was 31 van hierdie kliere kankeragtig. Hy het ook ’n kopoperasie ondergaan en moes ’n paar dae met ’n oop kopwond rondloop. Gelukkig kon hy net voor Kersfees 2022 uit Kimberley na sy vrou en kinders in Potchefstroom terugkeer.

‘Die bestraling het hom so siek gemaak dat hy nie kon eet nie’

Kort daarna het hy ses weke in Bloemfontein gebly vir bestraling in sy nek en moes hy terselfdertyd medikasie ontvang. Die bestraling het hom so siek gemaak dat hy nie kon eet nie, maar hy is daardeur. 

Hy is daarna met teikenterapie behandel en gereeld gemonitor tot in Maart 2023. In Junie het sy uitslae skoon teruggekom: Die kanker was in remissie.

Dit was helaas nie die einde van sy mediese uitdagings nie. ’n Gewas van 12 mm is in sy brein ontdek ná ’n epileptiese toeval op 4 Augustus. Hy het ná die bestraling beter begin voel, maar sy ledemate het stelselmatig weer lam geraak.

‘Om op 36 vrede te maak met die dood is nie ’n lekker ding om deur te gaan nie’

Die dag ná sy huweliksherdenking in Oktober is hy ná nog ’n aanval hospitaal toe gehaas. Die gewas het tot 2,5 cm gegroei. 

Vincent en sy vrou, Roseleen, is in Oktober 2014 getroud en het twee jong seuns, LJ (7) en Vianro (3). “Om op 36 vrede te maak met die dood, dat jy nie jou kinders meer gaan sien en daar gaan wees vir hulle en jou vrou nie – is nie ’n lekker ding om deur te gaan nie,” sê hy.

Vincent is vir ’n nood-breinoperasie na Pretoria, waar dr. Maurizio Zorio die hele gewas in Netcare se Milpark-hospitaal verwyder het. Ná sewe weke van lamheid het ’n breinskandering gewys die kanker het aggressief teruggekom.


Die grootste gewas het 4 cm groot geword, en verskeie kleiner gewasse (3 tot 5 mm) het gevorm. Een van hierdie gewasse was in die middel van sy brein, waar dit nie geopereer kon word nie.

Hy was lank verlam en in die intensiewesorgeenheid. In ’n rehabilitasiesentrum moes hy weer leer loop en sy hand gebruik. Kersfees 2023 wou hy by sy geliefdes wees, maar die volgende dag is hy hospitaal toe. 

Die gewas het so groot soos sy vuis geword, en die mediese span was nie hoopvol oor sy kanse op oorlewing nie. As die immunoterapie wat hulle aanbeveel het, nie gewerk het nie, sou hulle hom net gemaklik kon maak by die huis.

Vincent voor sy tweede immunoterapiebehandeling. Foto verskaf 

Sy ondersteuningsnetwerk het dit moontlik gemaak om die eerste twee behandelings te bekostig. Sy mediesefondsbydrae het in Januarie 2024 van R9 000 vir die hele gesin tot R12 000 vir hom alleen toegeneem.

Hy het byna 20 kg verloor tydens sy immunoterapie en sewe weke in die intensiewe sorgeenheid deurgebring. Hy is na ’n rehabilitasiesentrum in Potchefstroom oorgeplaas, moes weer leer loop en hy ontvang steeds immunoterapie.

Middel vanjaar het hy goeie nuus gekry: In al die moontlike kankergroeigebiede het hy net ’n 1 mm-gewas in sy brein gehad, wat beteken die behandelings werk.

’n Skandering van die gewas wat in Augustus 2024 in Vincent se brein waargeneem is. Foto verskaf

Hy moet egter steeds al om die drie weke altesaam 35 behandelings kry, ’n swaar pad, liggaamlik sowel as finansieel. ’n Back-A-Buddy-veldtog om geld in te samel, ontlok nie baie skenkings nie, wat dit moeilik maak om by te hou met mediese koste en alledaagse benodigdhede.

Vincent werk tans by Potch-studentebehuising vir ’n ekstra inkomste en wil sy eie besigheid begin, maar hy het hulp nodig om sy gesondheid te herstel.

Vincent-projek

Jana Blignaut het, met die hulp van die Rotariërklub van Potchefstroom, die Vincent-projek van stapel gestuur. Die doel is om geld in te samel deur ’n lootjietrekking. 

Vir R100 per kaartjie kan mense die kans kry om ’n 200cc Big Boy-motorfiets ter waarde van R27 000 wen. Die trekking vind op 14 November plaas. 

Vir inskrywings of skenkingsbesonderhede, besoek die Facebookblad Vincent se Kankerstorm.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Jaano de Bruin cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.