Central SA
Vermeende korrupte Upington-polisiebeampte oor ’n week weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:32 Mon, 10 Nov 2025
Die Noord-Kaapse polisiebeampte, wat beskuldig word van meer as R1 miljoen se bedrieglike transaksies, kom na verwagting weer op 17 November in die hof voor vir die vasstelling van ’n verhoordatum.
Lt.kol. Pieter Andries Nel het Woensdag (5/11) in Upington se streekhof verskyn. Hy het na bewering die dossier in sy eie korrupsiesaak aan die verdediging bekend gemaak.
Nel is op 20 Mei op R20 000-borgtog vrygelaat, nadat die saak uitgestel is vir sy eerste verskyning in die streekhof, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Nel was verbonde aan Upington se polisiekantoor. Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie het hom tuis in hegtenis geneem op talle aanklagte van onder meer bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.
Valse eise ingedien
Nel word daarvan beskuldig dat hy tussen Desember 2022 en April verlede jaar verantwoordelik was vir bedrieglike transaksies van R1 245 620, sê Thebe.
“Die aanklagte teen Nel sluit in die indien van fiktiewe eise onder die polisie se voedingsprogram vir aangehoudenes, die indiening van valse eise vir bande en brandstofaankope vir polisievoertuie, en die duplisering van verblyf- en reistoelaageise.”
Die beweerde bedrieglike betalings is glo direk in Nel se persoonlike bankrekening betaal. “Hy staan tereg op 97 aanklagte van bedrog en 97 aanklagte van geldwassery, omdat hy na bewering die oorsprong van die gesteelde geld verberg het.
NVG beloof optrede
“Nel word ook aangekla van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, wetgewing wat die etiese en verantwoordelike bestuur van openbare finansies beheer.”
Die NVG herbevestig sy verbintenis om staatsamptenare aanspreeklik te hou en te verseker die misbruik van openbare fondse en die skending van openbare vertroue word met die volle mag van die gereg bekamp bekamp.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

