On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-vrou se verhoor hervat oor moord op haar man

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Mon, 17 Nov 2025

 Welkom-vrou se verhoor hervat oor moord op haar man | News Article
Linda van den Heever met ’n vorige hofverskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die verhoor van ’n vrou, wat daarvan beskuldig word dat sy haar man vermoor het, word Maandag in die hooggeregshof in Welkom hervat.

Die verhoor is vir nog vier dae op die rol. Die verdedigingspan sal na verwagting besluit of bykomende getuies geroep sal word om te getuig. Dit sluit die beskuldigde in.

Linda van den Heever (64) staan tereg weens die moord op haar vervreemde man, André van den Heever (64), wat op 14 Desember 2021 in die egpaar se huis in Welkom doodgeskiet is. Die egpaar het in aparte kamers gewoon.

André, ’n prokureur, het sy regspraktyk vanaf dieselfde eiendom bedryf.

Adv. Allen Simpson, Van den Heever se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê sy het ná die skietery na die huis van haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, op Hennenman gery. Hulle was sewe jaar lank in ’n verhouding.

Van der Westhuizen het die polisie met haar aankoms gebel, waarna sy dieselfde dag nog in hegtenis geneem is.

André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Die polisie het na bewering ’n .38 Special-rewolwer, patroondoppies en ammunisie in Van den Heever se handsak gevind. Hoewel ’n aanklag weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen voorheen teen haar aanhangig gemaak is, is dit teruggetrek nadat bevestig is die wapen was in haar naam geregistreer.

In haar weergawe van die gebeure beweer Van den Heever André het haar kort voor sy dood aangerand deur haar teen die kop te slaan, te stamp en na die kombuis te sleep. Sy het na bewering beheer oor haar blaas verloor.

Sy voer aan sy kan nie onthou wat daarna gebeur het nie, insluitend hoe sy op Hennenman beland het. Sy was byna sewe maande in aanhouding, waaronder ’n maand in die Vrystaatse psigiatriese kompleks, voordat sy op borgtog vrygelaat is.

Haar verhoor het reeds in Julie begin toe die hof verskeie getuies aangehoor het, onder wie die egpaar se dogter, Melissa van den Heever, wat nou in Johannesburg woon. Sy was die eerste verdedigingsgetuie ná ’n vroeëre uitstel weens ’n onvolledige deskundigeverslag.

’n Collage van foto’s van die Van den Heever-gesin. Foto’s: Facebook/Christopher van den Heever

Sy het getuig sy het omstreeks 07:30 op die dag van die moord ’n stemboodskap van haar ma ontvang. Daarin het Van den Heever gesê:

“Jou pa het my so pas in die gesig geklap, sy vinger in my gesig gedruk, my rondgeruk-en-gepluk in die kombuis.”

Melissa het onmiddellik haar broer, Christopher, gebel en gevra hy moet na die huis te gaan. Toe sy kort ná 11:00 daar aankom, het sy in die studeerkamer op haar pa se liggaam afgekom, dieselfde vertrek waar hy sy regspraktyk beoefen het. Haar ma was nêrens te vind nie.

Toneel chaoties

Dit was ’n chaotiese toneel, het Melissa getuig. Sy het ’n gebruikte patroonhuls en ’n projektiel op die toneel uitgewys aan ’n man, wat nie ’n polisie-uniform aangehad het nie. Sy het hom dopgehou terwyl hy dit in sy broeksak gesit het pleks van in ’n behoorlike bewysstuksak.

Hierdie onreëlmatigheid het sy aan staatsaanklaer, adv. Eda Liebenberg, gerapporteer, maar niks het daarvan gekom nie.

Sy het tien dae later nog ’n handwapen in ’n kas ontdek, al het die polisie reeds die huis deursoek, het sy getuig. Sy het onmiddellik ’n ander beampte gebel om die wapen te gaan haal.

Welkom-moord: Dogter getuig ma, pa gaan mekaar gereeld te lyf | News Article

Linda van den Heever staan tereg weens die moord op haar eksman, André van den Heever, einde 2021. Foto: Charne van der Merwe

Die hof het gehoor André en Van den Heever is in 2012 uit mekaar nadat albei buite-egtelike verhoudings gehad het.

Tog het Van den Heever jare later weer by André ingetrek nadat ’n werksgeleentheid in ’n ander provinsie deur die mat geval het. Melissa het geweet haar ouers het gereeld baklei. Die spanning is vererger deur haar ma se kêrel, Van der Westhuizen, en André se nuwe lewensmaat, wat Van den Heever sterk afgekeur het.

In kruisondervraging het Liebenberg verskeie stem- en WhatsApp-boodskappe aangebied vanaf André se selfoon. Dit het voortdurende rusies in die familie aan die lig gebring waarin Melissa haarself as “die logiese een” beskryf het en haar broer Christopher as “die sagte een”.

Dogter ‘nader aan pa’

Sy het erken sy was na aan haar pa, en Christopher het ’n sterker band met hul ma gehad. Haar kon ma kortaf wees, het sy getuig, maar ontken dat sy manipulerend teenoor André was.

In haar oorspronklike polisieverklaring het sy Van den Heever egter daarvan beskuldig dat sy haar pa fisiek en emosioneel mishandel het, ’n bewering wat sy later teruggetrek het omdat sy “oorweldig en kwaad” was toe sy dit gemaak het. Sy het aan die hof gesê albei haar ouers het mekaar met die jare fisiek en emosioneel leed aangedoen.

Die vervolging het ook Melissa se e-posse aan ’n dokter voorgelê waarin sy haar kommer uitspreek dat haar ma ’n gevaar vir haarself en ander kan inhou. In een het sy verwys na ’n voorval waarin Van den Heever na bewering gedreig het om haar eie lewe te neem ná ’n woordewisseling met André.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.