Central SA
Vermoorde Glen-kleuter se ma in hof vir jong familielid se moord─── ZENANDE MPAME 15:47 Mon, 17 Nov 2025
Vrystaatse polisie ondersoek steeds twee moorde in die nedersetting Glen, noord van Bloemfontein, waarin ’n kleinniggie en -nefie kort ná mekaar vermoor is.
Premier MaQueen Letsoha Mathae en Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het gevra dat die klein gemeenskap kalm bly terwyl ondersoekers die omstandighede rondom die twee kinders se dood en die betrokkenheid van hul naasbestaandes probeer vasstel. Vuyiswa Leeuw (29), ma van die vermoorde Katleho Leeuw (3), kom na verwagting Donderdag (20/11) voor in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van Onkarabetse Leeuw (5) se moord en ontvoering.
Die verdagte is vyf maande swanger.
Onkarabetse se ma, Rethabile (20), ’n niggie van Leeuw, het haar seuntjie Saterdag 8 November by die Glen-polisiekantoor as vermis aangemeld. Ná ’n wydlopende soektog is sy liggaam vier dae later onder ’n kartondoos in digte plantegroei aan die suidelike buitewyke van die nedersetting gevind.
Haar kleinniggie, Katleho (3) , is reeds op Donderdag 23 Oktober as vermis aangemeld. Iemand het twee dae later op haar liggaam afgekom, ook in digte plantegroei naby die nedersetting.
’n Familielid van albei slagoffers is in hegtenis geneem vir Katleho se moord. Hy word ook aangekla van seksuele aanranding.
Die 30-jarige is in die Vrystaatse psigiatriese hospitaal opgeneem vir maand lange sielkundige waarneming voor sy derde hofverskyning op 4 Desember.
“Ek is verbaas dat twee kinders, wat verwant is, onder soortgelyke omstandighede gesterf het,” sê die premier. “Selfs erger is die feit dat twee naby familielede van die slagoffers in hegtenis geneem en van hul moord aangekla word.”
“Ongeag waardeur mense gaan, niks regverdig dat mense eie reg toepas nie. Die twee kindertjies het kort ná mekaar onder soortgelyke omstandighede gesterf, en hul oom sowel as hul tante word van hul moord aangekla.”
Mbalula het intussen sy meegevoel met die Leeuw-familie betuig. Die inhegtenisneming van naasbestaandes laat ernstige vrae ontstaan oor veiligheid en vertroue in die tuisomgewing.
“Die tragiese verlies van Katleho en Onkarabetse, gepaard met die inhegtenisneming van hul oom en tannie, laat vra ontstaan. Ons is verbind daartoe om die waarheid bloot te lê en toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê hy.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.



