On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-moord: Hof hoor finale betoë in moordsaak teen prokureur se eksvrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 17:45 Tue, 18 Nov 2025

Welkom-moord: Hof hoor finale betoë in moordsaak teen prokureur se eksvrou | News Article
Linda van den Heever staan tereg weens die moord op haar eksman, André van den Heever, einde 2021. Foto: Charne van der Merwe

Die Vrystaatse vrou wat teregstaan weens die moord op haar voormalige man gaan nie in die saak getuig nie.

Linda van den Heever (64) se regspan het Maandag (17/11) bevestig dat sy nie sal getuig nie. Die saak is in die rondgaande hooggeregshof in Welkom tot Woensdag (19/11) uitgestel. 

Die staat en verdediging moet teen dan hul betoogshoofde voorberei en indien, waarna betoë sal volg.

André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Die moordsaak is tot Vrydag (21/11) op die rol en uitspraak word nog hierdie week verwag. Van den Heever staan tereg op ’n aanklag van moord op haar eksman, André (64), wat op 14 Desember 2021 in die egpaar se huis in Welkom doodgeskiet is.

Die egpaar het in aparte kamers gewoon. André, ’n prokureur, het sy praktyk vanaf dieselfde perseel bedryf.

Adv. Allen Simpson, Van den Heever se regsverteenwoordiger, het vroeër aan die hof verduidelik dat sy ná die skietery na die huis van haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, in Hennenman gery het. Hulle was sewe jaar lank in ’n verhouding. Met haar aankoms het Van der Westhuizen die polisie gebel en sy is dieselfde dag in hegtenis geneem.

LEES OOK: Welkom-moord: Dogter getuig ma, pa gaan mekaar gereeld te lyf

Volgens Van den Heever kan sy nie onthou wat gebeur het nie, maar die staat voer aan dat sy die moord vooraf beplan het. Sy beweer verder sy kan nie onthou hoe sy in Hennenman beland het nie. Daar is tekens dat sy voor die voorval aangerand is.

In haar weergawe beweer sy André het haar kort voor sy dood aangerand deur haar teen die kop te slaan, haar te stamp en haar na die kombuis te sleep. Sy het glo beheer oor haar blaas verloor.

Die polisie het ’n .38 Special-rewolwer, patroondoppies en ammunisie in Van den Heever se handsak gevind. ’n Aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen is aanvanklik teen haar aanhangig gemaak, maar later teruggetrek toe bevestig is dat die wapen wel in haar naam geregistreer is.

In Julie het die hof getuienis van die egpaar se dogter, Melissa van den Heever, aangehoor. Sy het getuig dat sy omstreeks 07:30 op die dag van die moord ’n stemboodskap van haar ma ontvang het: “Jou pa het my so pas in die gesig geklap, sy vinger in my gesig gedruk en my rondgeruk in die kombuis.”

Melissa het daarop haar broer, Christopher, gebel en gevra dat hy na die huis gaan. Toe sy kort ná 11:00 daar arriveer, het sy op haar pa se liggaam afgekom in die studeerkamer waar hy sy praktyk beoefen het, terwyl haar ma nêrens te sien was nie.

Sy het die toneel as chaoties beskryf. Volgens haar het sy gesien hoe ’n onbekende man ’n patroonhouer in sy sak steek pleks daarvan om dit as bewysstuk te bewaar. Tien dae later het sy self nog ’n vuurwapen ontdek wat deur die polisie oor die hoof gesien is.

’n Collage van foto’s van die Van den Heever-gesin. Foto’s: Facebook/Christopher van den Heever

Die hof het ook gehoor dat die egpaar se verhouding wisselvallig was. Albei het buite-egtelike verhoudings gehad en daar was voortdurende konflik en spanning.

Boodskappe op André se foon het jare lange gesinskonflik bevestig. Melissa het erken sy was nader aan haar pa en dat albei ouers mekaar oor die jare seergemaak het. In ’n e-pos aan ’n dokter het sy haar kommer uitgespreek dat haar ma moontlik ’n gevaar vir haarself of ander kan wees.

Van den Heever was ná die voorval byna sewe maande in aanhouding, waarvan een maand in die Vrystaatse psigiatriese kompleks was, voordat sy op borgtog vrygelaat is.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.