Central SA
‘Ek gaan jou vernietig’ – vrou se stemboodskap voor man se moord─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:22 Thu, 24 Jul 2025

“Jou pa het my so pas in die gesig geklap, sy vinger in my gesig gedruk, my rondgeruk en gepluk en in die kombuis.”
Dit was die stemboodskap wat Linda van den Heever (64), die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar eksman vermoor het, kort voor sy dood aan hul dogter, Melissa van den Heever, gestuur het.
André van den Heever (64) is iewers tussen dié boodskap en 11:00 die oggend vermoor. Sy liggaam is gevind in die studeerkamer, wat hy as prokureur vir sy praktyk gebruik het.
André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever
Melissa het die boodskap omstreeks 07:30 op 14 Desember 2021 ontvang. Sy het haar broer Christopher ontsteld gekontak en hom gevra om na die huis te gaan wat hul geskeide ouers steeds gedeel het.
Melissa het toe van Johannesburg af gery en kort na 11:00 by haar grootword huis aangekom. Teen dié tyd was haar pa reeds dood.
Dit is Dinsdag (22/7) tydens die tweede dag van Van den Heever se verhoor in die Welkom Hooggeregshof onthul.
Met haar aankoms by die huis het Melissa gesien haar ma was weg. Linda het ná die voorval na die huis van haar ekskêrel Kiewiet van der Westhuizen op Hennenman gery.
Adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger, sê dié twee was destyds al sewe jaar in ’n verhouding. Van der Westhuizen het die polisie gekontak met Linda se aankoms, en sy is dieselfde dag in hegtenis geneem.
Van den Heever voer aan dat sy niks van die gebeure kan onthou nie. Die staatsaanklaer, adv. Eda Liebenberg, het die hof meegedeel dat sy ook ’n SD-kaart van André se selfoon gevind het met talle stemboodskappe wat uitgeruil is in ’n gesinsgroep op WhatsApp wat Melissa, Christopher, André en Linda ingesluit het.
Liebenberg het vir Melissa gesê dat die stemboodskappe wys dat sy probeer het om die rol van vredemaker in die gesin te speel en na haarself verwys het as “die logiese een”, terwyl sy Christopher as “die sagte een” beskryf het.
Melissa het met hierdie beskrywing saamgestem. Sy het erken dat sy baie na aan haar pa was, terwyl Christopher ’n hegter verhouding met hul ma gehad het.
Sy het ook erken sy en Linda het hul verskille gehad, soos algemeen is in ma-dogter-verhoudings.
Liebenberg het opgemerk die stemboodskappe beeld Van den Heever as iemand wat kort van draad is, waarmee Melissa saamstem.
’n Collage van die Van den Heever-gesin. Foto’s: Facebook/Christopher van den Heever
Toe sy gevra is of sy glo haar ma was manipulerend teenoor haar pa, het Melissa nee gesê. In haar aanvanklike verklaring aan die polisie het sy egter beweer dat Van den Heever André fisiek en emosioneel mishandel het.
Melissa het verduidelik sy was in ’n hoogs emosionele toestand was toe sy die eerste verklaring afglê het en briesend vir haar ma. Sy het sedertdien tyd gehad om te besin en gesê sy moes haar woorde versigtiger gekies het.
LEES OOK: Prokureur-moordsaak: Vervreemde vrou weer in hof
Terwyl haar pa haar oor hierdie kwessies in vertroue geneem het, het Melissa gesê sy het nooit self enige mishandeling gesien nie. Van den Heever het nooit sulke voorvalle met haar gedeel het nie, omdat hulle nie so ’n verhouding het nie.
Melissa het ook erken sy glo albei hul ouers het mekaar emosioneel en liggaamlik mishandel het.
LEES OOK: Welkom-moord: Dogter getuig ma, pa gaan mekaar gereeld te lyf
Liebenberg het verskeie e-posse aangebied waarin Melissa ’n dokter genader het omdat sy bekommerd was haar ma was ’n gevaar vir haarself en ander. In een geval het Van den Heever na bewering gedreig om haar eie lewe te neem na ’n woordewisseling met die oorledene.
Die saak is uitgestel tot 17 November vir ’n vyf dag lange verhoor in die hooggeregshof in Welkom. Na verwagting sal Van den Heever en ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein, wat as ’n deskundige getuie dien, getuig.