Central SA
Koppies-moord: Saak van rol verwyder nadat klagstaat toegesluit was─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Wed, 19 Nov 2025
Geregtigheid bly die geliefdes van ’n Vrystater ontwyk nadat die klagstaat nie betyds vir sy vermeende moordenaar se hofverskyning bekom is nie, omdat dit in ’n kantoor toegesluit was.
Marvin Abrahams sou Donderdag (13/11) in die Koppies-streekhof verskyn in verband met die moord op David Erasmus. Die saak is egter van die rol geskrap omdat die oorspronklike klagstaat nie beskikbaar was nie.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, provinsiale NVG-woordvoerder, is Erasmus op 22 Junie verlede jaar voor sy lewensmaat, Nadia Potgieter, en hul tweeling (6), David en Joshlyn, met ’n skerp voorwerp in die keel gesteek.

David Erasmus is in Junie verlede jaar doodgesteek. Foto verskaf
“Die paartjie het Abrahams geken. Hy het na bewering die aand die deur afgeskop en geskree hy is van plan om Erasmus ‘dood te maak’,” sê Senokoatsane. Hy het glo op Erasmus afgestorm en hom met ’n skerp voorwerp gesteek. Erasmus is kort daarna dood.
Abrahams het op 19 September 2023 vir die eerste keer in die streekhof verskyn nadat hy vroeër borgtog in die landdroshof gekry het. Die saak is twee keer uitgestel vir afskrifte en vir voorbereiding op die voorlopige verhoor.
Nadat Abrahams nie op 12 Desember vir die voorlopige verhoor opgedaag het nie, is ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Hy is op 16 Oktober vanjaar weer in hegtenis geneem in Reigerpark aan die Oos-Rand.
Klagstaat ontbreek steeds
Ná byna ’n maand in aanhouding is die saak op 13 November van die rol geskrap toe die hofklerk, in wie se kantoor die oorspronklike klagstaat toegesluit was, afwesig was.
“Die hofklerk is verantwoordelik vir die bewaring van die klagstaat en moet dit aan die staat verskaf. Aangesien Abrahams weer in hegtenis was, is dit verwag dat die klagstaat nodig sou wees, maar daar is telkens verskonings gegee waarom dit nie verkry kon word nie,” sê Senokoatsane.
Kapt. Lorraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die saak word steeds ondersoek. “Ons moet nou weer aansoek doen om ’n J175-kennisgewing om die verdagte se volgende hofverskyning te verseker. Sou hy versuim om te verskyn, sal die ondersoekbeampte weer om ’n lasbrief moet aansoek doen.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs/mvh

