On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Aliwal-Noord: Boervrou binnekort weer in hof ná beweerde huurmoordplan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Mon, 24 Nov 2025

Aliwal-Noord: Boervrou binnekort weer in hof ná beweerde huurmoordplan | News Article
Anelle de Bruin. Foto: X

Die vrou van Aliwal-Noord (Maletswai) verskyn Maandag (24/11) weer in die landdroshof. Sy word daarvan beskuldig dat sy haar eksman wou laat vermoor en dit soos ’n plaasaanval laat lyk.

Anelle de Bruin (46) se saak is op 22 September uitgestel sodat die direkteur van openbare vervolgings kan besluit of die verhoor in die streekhof of die hooggeregshof aangehoor gaan word. Haar borgtog is intussen verleng onder dieselfde voorwaardes.

Sy is aanvanklik op borgtog van R2 000 ná nege dae in aanhouding vrygelaat. De Bruin word steeds verbied om na die plaas sowat 30 km buite die dorp te gaan en mag haar kinders slegs onder toesig sien.

De Bruin staan tereg op aanklagte van sameswering om haar man, Johan (56), van die plaas Rietpoort te laat vermoor.  

Volgens die NVG is daar klankopnames waarin sy opdragte aan vermeende huurmoordenaars gee, insluitend dat die gesin se honde doodgemaak en die bande van haar man se bakkie ná die moord stukkend gesteek moes word.

Die “aanval” was glo vir die aand van 8 Januarie beplan. Die polisie het op ’n wenk gereageer en sy is op 9 Januarie in hegtenis geneem.

Johan en Annelle de Bruin. Foto: Facebook

Volgens die NVG het De Bruin glo ’n tussenganger genader om huurmoordenaars te reël en ’n voorskot betaal. Sy het belowe die res van die bedrag sal betaal word nadat haar man vermoor en versekeringspolisse uitbetaal is. “Sy sou na bewering meer as R50 miljoen geërf het,” sê Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder.

Die saak is reeds verskeie kere uitgestel weens uitstaande items soos selfoonrekords, verklarings van sleutelgetuies, fotoalbums en addisionele getuienis.

Devon Reid is die aanklaer. Adv. Allen Simpson sê geen verdere besonderhede, soos die inhoud van die dossier of die finale klagstaat is nog beskikbaar nie. Martins Prokureurs in Bloemfontein het Simpson opdrag gegee om De Bruin te verdedig.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.