On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Chubby Chick-moord: Joubert verskyn later ná aanval op broers

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Thu, 20 Nov 2025

Chubby Chick-moord: Joubert verskyn later ná aanval op broers | News Article
Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook

Die 73-jarige, wat na bewering ’n Potchefstroomse sakeman doodgeskiet en dié se broer swaar gewond het, maak na verwagting op 11 Desember sy eerste hofverskyning mits hy genoegsaam herstel het.

Robert Joubert (73) se saak het Woensdag (19/11) in sy afwesigheid in die Potchefstroomse distrikshof voortgegaan. Hy word onder polisiebewaking in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal behandel nadat hy in albei sy arms geskiet is kort ná die skietery op die sakebroers.

Joubert word aangekla van die moord op Johnathan Fourie (52), direkteur van Chubby Chick, en poging tot moord op Johnathan se broer, Deon (55), mededirekteur, op 10 November in die maatskappy se kantoor in Potchefstroom se nywerheidsgebied.

Die Fourie-familie besit die hoenderfirma reeds dekades lank. Die twee het die onderneming oorgeneem nadat hul pa, John, oorlede is.

Robert Joubert (73) se saak het Woensdag in sy afwesigheid in die Potchefstroomse distrikshof voortgegaan. Foto: Facebook

Deon is kort ná die aanval per helikopter na ’n Gautengse hospitaal geneem vir ’n noodoperasie en is Donderdag ’n tweede maal geopereer. “Die operasie was suksesvol,” sê John-Henré Engels, waarnemende bestuurder van Chubby Chick.

Die Fourie-broers en Joubert het na bewering vergader oor ’n eiendomstransaksie, luidens ’n verklaring deur die maatskappy. Joubert het na bewering die perseel ná die besprekings verlaat, maar het sowat ’n halfuur later teruggekeer.

Deon is in die raadsaal geskiet, maar kon hulp ontbied. Sy broer, Johnathan, het nader gehardloop om te help, maar is ook geskiet. Hy is op die toneel dood.

Deon en Johnathan Fourie en hul pa, John. Foto verskaf

Veiligheidswagte het kort daarna opgedaag. Joubert is gewond in die daaropvolgende skietery, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Deon se temperatuur teen Donderdag (20/11) aansienlik gedaal, hoewel dit steeds effens verhoog is. Dialise sou voortduur vir nog enkele ure, sê Basil Kletz, ’n familievriend van die Fouries.

“Die dreineringsbuis in sy long is gister (Woensdag) verwyder. Ventilasie word stadig verminder namate hy beter op sy eie asemhaal. Dink asseblief aan Deon en bid vir hom. Verminderde sedasie sal ook sy liggaam help herstel en kan bewustheid en beweging verbeter.”

‘Geen band met Joubert’

OFM Nuus het Woensdag berig Deon het ’n rustelose nag gehad het en sukkel met koors. “Ons wag vir die dokter om ons meer duidelikheid te gee,” het Kletz gesê.

Maandag kon dokters, danksy sy gestabiliseerde bloeddruk, die dialisefrekwensie verhoog – vordering wat sy familie en kollegas hoop gee.

Chubby Chick beklemtoon Joubert het geen formele verbintenis met die maatskappy nie. Die bedrywighede gaan normaal voort.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.