On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-moord: Prokureur se eksvrou hoor kort voor Kersfees haar lot

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:27 Thu, 20 Nov 2025

Welkom-moord: Prokureur se eksvrou hoor kort voor Kersfees haar lot | News Article
Linda van den Heever. Foto: Charne van der Merwe

’n Welkom-vrou hoor kort voor Kersfees wat haar lot is in die saak oor die moord op haar eksman.

Linda van den Heever (64) sal op 22 Desember in die Bloemfonteinse hooggeregshof haar vonnis aanhoor wanneer uitspraak gelewer word ná ’n byna vier jaar lange hofproses. Sy is aangekla van die moord op haar voormalige eggenoot, André (64).

Sy het Woensdag (19/11) in die rondgaande hooggeregshof in Welkom verskyn waar die staat en verdediging hul betoë gelewer het. 

André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Die staat voer aan sy was ten volle bewus van haar optrede, het die moord beplan en moet aanspreeklik gehou word. Die verdediging ontken dit en sê haar skuld is nie bo redelike twyfel bewys nie, en voer aan dat sy uit selfverdediging opgetree het.

Die saak is vir vyf dae op die rol geplaas sodat Van den Heever kon getuig, maar haar regspan het Maandag (17/11) bevestig dat sy nie gaan getuig nie.

Dag van skietery

André is op 14 Desember 2021 in hul huis in Welkom doodgeskiet. Die voormalige egpaar, albei aan ander verhoudings verbind, het in aparte kamers gewoon. André, ’n prokureur, het sy praktyk vanaf dieselfde eiendom bedryf.

Ná die skietery het Van den Heever na haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, in Hennenman gery. Hy het die polisie gebel en sy is later in hegtenis geneem.

Adv. Ena Liebenberg, vir die staat, het die besonderhede van die gebeure voor en ná die skietery uiteengesit. Sy beskryf die verhouding as onstabiel, met gereelde konflik en spanning.

Albei het beserings opgedoen in ’n woordewisseling op die oggend van die skietery. Kort daarna het André in sy kantoor gesit toe hy doodgeskiet is. Volgens die staat het Van den Heever hom doelbewus geskiet, daarna gaan bad, skoon klere aangetrek en die toneel verlaat.

Die wapen, ’n .38-rewolwer, is in haar handsak gevind. Ballistiese bewyse koppel die koeël in André se skedel direk aan haar vuurwapen. Die staat voer aan die bewaringsketting is nie geskend nie.

Volgens Liebenberg bewys haar optrede ná die skietery – bestuur, kommunikasie en hantering van die wapen – dat sy ten volle aanspreeklik was en nie onder enige vorm van geestesversteuring opgetree het nie.

LEES OOK: Welkom-vrou se verhoor hervat oor moord op haar man

Adv. Allen Simpson voer aan die staat steun uitsluitlik op omstandigheidsgetuienis. Daar is geen ooggetuie of direkte bewyse wat haar op daardie oomblik met die wapen verbind nie, sê hy.

Hy wys op leemtes in die bewaringsketting, teenstrydighede in getuienis én onreëlmatighede op die toneel: vuurwapens wat vermis en later gevind is, die verskuiwing van die liggaam, ’n patroon wat nie verantwoord is nie en geen skootresidu-toetsing nie, alhoewel die beskuldigde daarvoor beskikbaar was.

Die verdediging hou vol dat haar beserings, vorige gedokumenteerde geweld en kommunikasie tussen die paartjie steun dat sy uit selfverdediging opgetree het.

Voorbedagte rade?

Die staat sê selfs ’n kort tydperk van rasionele besluitneming is genoeg om voorbedagte rade te bewys. Die verdediging sê die bewyse laat redelike twyfel, en dat vryspraak die enigste regverdige uitkoms is.

Juan Adendorf is die opdraggewende prokureur.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cv/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.