On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Twee hof toe oor ietermagog ná arres op N8

───   REFILWE BEKANE 15:00 Tue, 25 Nov 2025

Twee hof toe oor ietermagog ná arres op N8   | News Article
Wanneer ’n dier gered word, word hy in die sorg van ’n reddingsentrum, reservaat of dieretuin geplaas. Foto: Saps

Twee verdagtes kom na verwagting binnekort voor in die Bloemfonteinse landdroshof nadat hulle betrap is met ’n ietermagog in hul besit.

Die twee mans (31 en 38) word aangekla ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit nadat hulle Maandag (24/11) tydens ’n gesamentlike optrede deur die blitspatrollie, honde-eenheid en Navalsig se misdaadvoorkomingseenheid aangekeer is. Die span het op ’n wenk gereageer.

“’n Bruin Toyota Corolla-sedan is op die N8 naby ’n vulstasie buite Bloemfontein afgetrek en die polisie het ’n soektog uitgevoer,” sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “’n Blou staalgereedskapkis is in die motor se kattebak gevind, gesluit met ’n hangslot.”

Die twee insittendes, wat gesê het hulle is van Petrusberg, het beweer hulle het nie die sleutel nie, wat beamptes verder agterdogtig gemaak het.

Ná die bestuurder toestemming gegee het dat die slot oopgebreek mag word, het beamptes op die bedreigde soogdiertjie afgekom. Die verdagtes het aan die polisie gesê hulle was op pad om ’n koper te ontmoet.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling, kleinsake, toerisme en omgewingsake het gehelp met die verwerking van die toneel. Intussen, in die lig van die wildmisdaad, sê die Wêreldfonds vir Dierewelsyn hulle bly fokus op oplossings om die onwettige handel in bedreigde spesies te stuit.


“Deur ons Live Animals Seized in Trade (Last)-projek help ons wetstoepassers om die prosedures en beste praktyke te implementeer wat nodig is om behoorlik vir geredde diere te sorg,” sê die organisasie.

Wanneer ’n dier gered word, word hy in die sorg van ’n reddingsentrum, reservaat of dieretuin geplaas. 

Terwyl die dier herstel, werk die organisasie saam met wildlewe-amptenare en die wetenskaplike gemeenskap om die dier se oorspronklike habitat te identifiseer en te bepaal of dit veilig na die natuur kan terugkeer, sonder om bestaande wilde bevolkings te benadeel.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Refilwe Bekane mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.