On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat belowe etiese, deursigtige proses vir beleggings in staatsbates

───   REFILWE BEKANE 13:00 Fri, 28 Nov 2025

Vrystaat belowe etiese, deursigtige proses vir beleggings in staatsbates | News Article
Kathleen Dibolelo Mance, LUR vir openbare werke en infrastruktuur, in gesprek met OFM Nuus se Zenande Mpane. Foto: Refilwe Bekane

Die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur is daartoe verbind om dit deur deursigtige en etiese prosesse makliker te maak vir potensiële beleggers om in staatsbates te belê.

Hierdie verbintenis is Donderdag (27/11) op die Vrystaatse beraad oor staatseiendom beklemtoon. Die geleentheid is bygewoon deur verskeie belanghebbendes, onder wie premier Maqueen Joyce Letsoha-Mathae en Ntombizanele Beauty Sifuba, LUR vir sport. 

Die departement beskou dié openbare beraad as ’n deurslaggewende stap om deursigtigheid te bevorder. 

Deur die bates in die provinsie se besit openlik te dokumenteer en die nodige prosesse duidelik uiteen te sit, beoog die departement om elke belangstellende party ’n billike geleentheid te gee. 

Die strewe is om deur dié deursigtige benadering enige moontlike persepsies te voorkom dat transaksies in die geheim of onder die tafel gehanteer word.

Voorts dring die provinsiale regering aan op die streng nakoming van alle regulasies. Kathleen Dibolelo Mance, LUR vir openbare werke en infrastruktuur, sê die premier het dit duidelik gemaak die korrekte prosedures moet gevolg word en geen kortpaaie sal toegelaat word nie.

“In werklikheid is dit wat ons vandag doen, ’n stap in die rigting van deursigtigheid,” het Mance gesê. Sy het bygevoeg die provinsiale regering wil hê gemeenskappe moet baat vind by die opknapping en benutting van ongereguleerde geboue in staatsbesit.

Verskillende belanghebbendes deel neem aan die beraad. Foto: Refilwe Bekane

Die regering wil daadwerklik aandag skenk aan klagtes uit die gemeenskap oor geboue wat op verskillende plekke deur misdadigers gekaap is. Deur sulke geriewe weer in gebruik te stel sal die gemeenskap direk bevoordeel word deurdat misdaadspilpunte uitgeskakel word. Boonop kan beduidende werksgeleenthede vir inwoners geskep word deur die ontwikkeling van geboue.

Mance het ook wyer gepraat oor breër ekonomiese geleenthede en gesê die oprig van infrastruktuur soos ’n internasionale konferensiesentrum in ’n Vrystaatse township kan voordelig wees vir die provinsie. 

Dit sal die Vrystaat in staat stel om groot geleenthede aan te bied en te steun op die provinsie se sukses met sportsoorte soos sokker en rugby. Sulke ontwikkelings beloof nuwe geleenthede en groei dwarsoor die Vrystaat.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM News/Refilwe Bekane, Zenande Mpame cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.