On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende roofbende vas ná polisie rooftog fnuik

───   09:35 Mon, 01 Dec 2025

Vermeende roofbende vas ná polisie rooftog fnuik | News Article
Al vyf voornemende rowers is spoedig aangekeer. Foto: SAPD

Vyf vermeende rowers kom na verwagting binnekort voor in die Botshabelo-landdroshof nadat die polisie ’n gewapende rooftog gefnuik het in die plaaslike nywerheidsgebied.

’n Spesialistaakspan is oos van Bloemfontein ontplooi nadat inligting ontvang is dat misdadigers toeslaan op sekere ondernemings op die dae wanneer werknemers hul bonus ontvang, sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Na bewering het ’n groep verdagtes reeds met dié doel voor oë begin rondbeweeg tussen ondernemings in dié nywerheidsgebied.  

Die polisie het vinnig opgetree en ’n rooi Fiat Punto geïdentifiseer waarin die voornemende rowers vermoedelik onderweg was. Beamptes van Botshabelo se verkeersafdeling het die voertuig tot stilstand gedwing op pad na die nywerheidsgebied.

Vyf mans (29 tot 38) is daarin aangetref, sê Covane. Die polisie het die voertuig deeglik deursoek en op ’n arsenaal gevaarlike wapens en inbreekgereedskap afgekom.  

Van die wapens en toerusting waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Dit sluit in drie 9 mm-pistole, waarvan die reeksnommers afgevyl is, twee slagtersmesse, ’n beitel, tang, vier klapmusse, nywerheidshandskoene en chirurgiese maskers. Die vyf mans is onmiddellik in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en huisbraaktoerusting.  

Die voornemende rowers word ook verbind met ’n onlangse huisrooftog elders in Botshabelo, sê die polisie. In dié voorval is die slagoffers van selfone, ’n skootrekenaar en motorsleutels beroof. 

Die polisie hoop dié inhegtenisnemings sal lig werp op ’n reeks misdade wat die gemeenskap die afgelope tyd geruk het.  


Die Vrystaatse polisie het onlangs gevra inwoners moet dié feestyd op hul hoede wees om misdaad te help voorkom:

  • Wees paraat, veral dié tyd van die jaar wanneer misdadigers bedrywiger is.
  • Meld enige gevalle van geslagsgeweld summier by die naaste polisiekantoor aan.
  • Lede van stokvelle word herinner om verantwoordelik en veilig met ander se geld om te gaan.
  • Moenie in die strik van dwelm- en drankmisbruik trap nie, en as dit wel gebeur, kry so gou moontlik hulp.
  • Hou toesig oor kinders, wees bewus van waar hulle is en waarmee hulle besig is, en meld enige gevalle van kinderverwaarlosing of -mishandeling onverwyld aan.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.