On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Yolanda
Show Background
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Boer van Warden kry gesteelde bakkie en vuurwapens terug

───   09:13 Sun, 07 Dec 2025

Boer van Warden kry gesteelde bakkie en vuurwapens terug | News Article
Die polisie het vinnig gereageer om die boer van Warden te help. Foto verskaf

Ses vermeende rowers sal in die landdroshof op Warden verskyn nadat hulle kort ná ‘n plaasaanval en huisroof in hegtenis geneem is.

Danksy die vinnige optrede van ander boere, veiligheidsmaatskappye en die polisie is ’n boer van Warden se gesteelde bakkie en vuurwapens kort ná die roof teruggevind.

Die boer (74)  wat nie deur die polisie geïdentifiseer is nie, is Vrydag (5/12) om 08:30 deur vyf onbekende mans op ‘n grondpad genader. Terselfdertyd het  hy opgemerk hoe iemand met sy wit Toyota Hilux-bakkie vanaf sy huis wegry.

Wapenkluis

Hulle het die boer met sy vuurwapen teen sy kop geslaan waarna hy op die grond geval het. Die boer se linkeroog is in die voorval beseer. Die verdagtes het in die gesteelde Toyota Hilux van die toneel gevlug en na die N3 gery.

Die boer is terug na sy huis en het sy vrou (76) ongedeerd in die kombuis gevind. Sy sê die mans het die huis deur die kombuis binnegekom. Hulle het ’n vuurwapen op haar gerig en haar gedwing om hulle na die vuurwapenkluis te neem. Die verdagtes het drie vuurwapens en ammunisie gesteel.

Alarm gemaak

Die boer het onmiddellik alarm gemaak en naburige boere, private veiligheidsmaatskappye en die polisie het hom kom help. 

Die gesteelde bakkie is opgemerk en op die N3 voorgekeer. Die mans is op die toneel in hegtenis geneem. Die boer se gesteelde vuurwapens is teruggevind en daar is ook beslag gelê op ’n Suzuki wat na bewering deur die verdagtes gebruik is.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die mans sal van huisroof aangekla word. 

Verlede maand is 13 verdagtes aangekeer ná ’n plaasaanval op Heilbron. Tydens die aanval is ’n plaaswerker doodgeskiet en sy vrou (34) seksueel aangerand en met ’n voorwerp gesteek. Sy is in die hospitaal met ernstige beserings opgeneem. 

Kapt Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die polisie, die boeregemeenskap, private veiligheidsmaatskappye en ander rolspelers het dadelik met ’n intensiewe soektog begin.

“Binne ure het die polisie daarin geslaag om die elf mans en twee vroue aan te keer. Ons het ook 22 gesteelde skape, ’n vuurwapen, ’n minibus en verskeie huishoudelike items teruggevind wat vermoedelik tydens die aanval gesteel is.

“Hierdie vinnige reaksie en die suksesvolle inhegtenisnemings van die verdagtes wys wat gedoen kan word wanneer die polisie en die gemeenskap saamwerk.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.