On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste Vrystater gevind, tieners en vrou steeds soek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Thu, 18 Dec 2025

Vermiste Vrystater gevind, tieners en vrou steeds soek | News Article
Clint Keith Davis. Foto: Verskaf

Die Vrystater wat tien dae lank vermis was, is veilig gevind.

Clint Keith Davis (55), wat Sondag 7 Desember in Welkom as vermis aangemeld is, is Woensdag op Hennenman opgespoor. Hy was ongedeerd en is sedertdien met sy familie herenig.

“’n Familielid van die vermiste persoon het ons in kennis gestel hy is veilig,” sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.

Geen nadere besonderhede is bekendgemaak nie.

Davis is laat Sondagaand in Bedelia gewaar.

Intussen word twee tienerseuns van Bloemfontein sedert Sondag (14/12) vermis. Die polisie vra inwoners se dringende hulp om die seuns op te spoor. Die twee vriende, albei van die Kagisanong-gebied, het glo saam weggeraak.

Twee tienerseuns van Bloemfontein word vermis | News Article

Die twee vermiste tieners. Foto: SAPD

Keamohetswe Ramotsie (14) is Sondagoggend (14/12) laas gesien toe sy ma hul huis in Albert Luthuli, Rocklands, verlaat het om werk toe te gaan.

Toe sy terugkom, was Keamohetswe skoonveld, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder. “Sy het dadelik na hom begin soek en sy vriende gekontak. Sy het gehoor Keamohetswe het na bewering saam met sy vriend Kamohelo Finger (16) die pad gevat.”

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Bloemfontein het die ondersoek oorgeneem en versoek enigiemand met inligting oor die seuns om na vore te kom. Maak kontak met Nikiwe Mokatsanyane, ondersoekbeampte, by 082 453 0815 of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Maditaba Eunice Mokhele. Foto: Verskaf

Intussen vra die polisie op Winburg ook die publiek se hulp om Maditaba Eunice Mokhele (62) op te spoor. Sy is Maandag as vermis aangemeld nadat sy Sondag omstreeks 17:45 laas gesien is.

“Sy het na bewering haar huis verlaat sonder om enigiemand in te lig waarheen sy gaan,” sê Kareli. Sy is laas gesien in ’n wit T-hemp, ’n ligte baadjie, ’n swart romp en wit tekkies.

Bel konst. Siyabonga Letebele van Winburg se speurafdeling by 082 4667678. Anonieme wenke kan ook gestuur met die MySaps-app.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.