Central SA
Pakistanse burger aangekla van moord op tienermeisie in Klerksdorp─── 09:17 Mon, 05 Jan 2026
’n Pakistanse burger verskyn Woensdag (7/1) weer in die hof weens die moord net meer as ’n week gelede op ’n tienermeisie van Klerksdorp.
Ahmad Zeeshan (38) is aangekeer nadat sy broer glo die polisie genader het. Hy het Dinsdag (30/12) die eerste keer in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.
Dit spruit uit ’n voorval waarin die 16-jarige Desmonica Cloete Sondag 28 Desember verwurg en vermoor is, sê lt.kol. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder.
Zeeshan het na bewering die middag sy broer gekontak en gesê hy het hulp nodig omdat hy in die moeilikheid is. Sy broer is na sy huis toe, waar hy na bewering deur Zeeshan gewys is waar Desmonica se liggaam op die slaapkamervloer lê, sê Tselanyane.

Lt.kol. Sam Tselanyane. Foto: Facebook/Sam Tselanyane
Hy het sy broer se hulp gevra. Sy broer het aanvanklik ingestem om hom te help en hom skuiling by sy huis aangebied, terwyl hy die nodige reëlings sou tref.
Die broer is egter na die Jouberton-polisiekantoor om die saak aan te meld. “Polisiebeamptes het die broer terug na sy huis vergesel, waar die verdagte onmiddellik in hegtenis geneem is.”
Zeeshan is aangekla van moord en die oortreding van die Immigrasiewet. Hy bly in aanhouding terwyl regsverteenwoordiging en tolkdienste vir hom gereël word. Die saak word verder ondersoek.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs

