Central SA
Waaihoek vier 114 jaar van weerstand─── REFILWE BEKANE 15:00 Thu, 08 Jan 2026
“Dit is vandag waar ons vir die mense van die wêreld sê: Hierdie plek is die naelstring waar dit begin het. Dit is die kerk waar alles gebeur het.”
Só het Gregory Nthatisi, burgemeester van Mangaung, die betekenis van die Wesleyaanse Sendingkerk in Waaihoek, Bloemfontein, beklemtoon tydens die herdenking van 8 Januarie 1912 op Donderdag (08/01). Die terrein is nou internasionaal erken deur Unesco as deel van die Nelson Mandela-erfenisterreine.
Die byeenkoms het ’n wye verskeidenheid beroepslui, leiers en geloofsgemeenskappe byeengebring om hulde te bring aan die plek waar Afrikane van regoor die vasteland meer as ’n eeu gelede saamgekom het “om ’n gebedsvergadering te verander in die fondament van ’n nuwe nasie”.
Tydens die geleentheid is ’n begeleide toer gehou wat die storie van die terrein vertel het, asook ’n spesiale vertoning om die dag te vier.
“Ons het almal saamgekom om dankie te sê aan die Wesleyaanse kerk dat julle vir ons ’n plek gegee het om op 8 Januarie ’n vergadering te hou – toe ons gelei is om ’n beweging te begin wat uiteindelik tot ’n demokratiese bestel gelei het waarin ons vandag leef,” het Nthatisi gesê.
Een van die teenwoordiges, wat anoniem wou bly, het die gees van die dag só saamgevat: “Ek is baie bevoorreg om hier te wees en sien uit daarna om meer oor die geskiedenis te leer.”

Die deelnemers uit die gemeenskap sowel as verskillende godsdienste was teenwoordig. Foto: Refilwe Bekane
Die geleentheid het ook die transisie van die kerk – van ’n plek van aanbidding na ’n sentrum van politieke bewussyn – beklemtoon. Dit is waar hoofstroomkerkleiers en tradisionele leiers eensgesind gestaan het.
Wêreldlandmerk vir die toekoms
Nthatisi het benadruk dat die verhouding tussen die munisipaliteit en die departement van sport hulpbronne ontsluit om die terrein in stand te hou en verder te ontwikkel.
“Ons het saamgestem oor watter hulpbronne hier aangewend moet word, soortgelyk aan die manier waarop ander erfenisgebiede landswyd bestuur word. Bo en behalwe dit, nooi ons die privaat sektor om ook ’n belangrike rol te speel.”
Intussen sê die DA in die Vrystaat die vervalle toestand van die kerk is ’n getroue weerspieëling van die huidige ANC. Die wêrelderfeniskerk waar die ANC gestig is, “is ’n leë dop, omring deur brandpunte van misdade soos dwelmhandel en prostitusie,” sê dr. Roy Jankielsohn, provinsiale partyleier.

Waaihoekwesleyan-sendingkerk gebied. Foto: Refilwe Bekane
Tydens ’n oorsigbesoek in Julie het die provinsiale departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning aan die wetgewer gesê die geboue toon ernstige instandhoudingsprobleme, waaronder waterlekkasies, beskadigde houtvloere en swak sekuriteit.
Volgens Jankielsohn is die museum en kerk “leë doppe”. Die enigste items in die museum is glo enkele stukke kombuisware. “Die paaie wat daarheen lei is vol slaggate, sypaadjies is met rommel oortrek en omliggende geboue is verwaarloos en verniel.”
Hy meen ’n mediaverklaring van die Mangaung-metro, wat die optog adverteer het, het tereg verwys na die terrein as ’n “morele en geskiedkundige anker”.
Morele leë dop
“Maar die toestand van die Wesleyaanse Sendingkerk Waaihoek en sy omgewing simboliseer alles wat die ANC geword het – en wat inwoners van Mangaung en ander Vrystaatse munisipaliteite daagliks moet verduur.”
Hy beskryf die ANC as ’n “morele leë dop” wat gemeenskappe “besmet het met misdaad, korrupsie en gebrekkige dienslewering”. Hy verwys na watertekorte, padinfrastruktuur in verval en vervuilde omgewings.
“Vrystaters het min rede om 8 Januarie 2026 te vier ná dekades van ANC-beheerde plaaslike en provinsiale regerings,” meen hy. “Ná beperkte vordering ná 1994 is die afgelope twee dekades in die Vrystaat gekenmerk deur grootskaalse diensverswakking, ongebreidelde misdaad en korrupsie en infrastruktuurverval.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.

