Central SA
Wolf-wolf: Groot reën op pad – maar g’n ‘Storm Baron’─── 14:17 Thu, 08 Jan 2026
Die Suid-Afrikaanse weerdiens maan die publiek teen fopnuus oor ’n storm wat in aantog sou wees met bewerings dat dit dood en verwoesting oor ’n wye gebied kan saai.
Die werklikheid is wydverspreide reën en donderstoms kan wel van Saterdag (10/1) tot volgende Donderdag in die noordoostelike dele van die land verwag word. Dit hou egter nie verband met boodskappe wat tans op sosiale media versprei word nie.
Dié boodskap waarsku oor ’n sogenaamde “Storm Baron”, wat vanaf 10 Januarie tot 18 Januarie oor Suider-Afrika sou beweeg. Dit verwys na moontlike “wydverspreide, aanhoudende reën” oor die Vrystaat, Noordwes, Oos-Kaap, Botswana en dele van Namibië. Tot meer 800 mm kan selfs val, word beweer.

Een van die boodskappe wat op X versprei is. Foto: X
In die ooste kan “uiterse reënval” in Mosambiek, die Krugerwildtuin en oostelike streke van tot 1 200 mm aangeteken word. Luidens ’n verklaring stel die weerdiens dit “ondubbelsinnig dat hierdie inligting onwaar is en as ’n klug beskou moet word.
Daar bestaan geen amptelik erkende storm met die naam ‘Baron’ nie, en daar is tans geen tropiese sikloonaktiwiteit oor die suidwestelike Indiese Oseaan nie.”
Die weerdiens bevestig wel dat ’n intense laagdrukstelsel oor die suidelike dele van Mosambiek verwag word in die komende dae. Hierdie stelsel kan van Saterdag tot Donderdag wydverspreide reën en donderstorms bring oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika.

KwaZulu-Natal loop die afgelope jare gereeld onder storms deur, soos op dié foto uit Mei 2022. Foto: eThekwini-munisipaliteit
Die mees waarskynlike gebiede wat geraak kan word sluit in die Platorand- en Laeveldstreke van Limpopo en Mpumalanga en die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal. Die weerdiens benadruk daar heers tans aansienlike onsekerheid oor presies waar die kern van die stelsel sal wees.
Indien die kern oos van Suid-Afrika bly, sal die reënval waarskynlik matig wees. “Indien dit nader aan die land beweeg, kan baie hoë reënval voorkom – tot honderde millimeter in sekere gebiede.”
Die weerdiens gee die versekering hy sal die situasie noukeurig dophou en gereeld die publiek inlig. Die diens versoek die publiek en belanghebbendes om slegs op amptelike weervoorspellings en waarskuwings ag te slaan en enige ongemagtigde of onbevestigde inligting te ignoreer.
Sonnige Sentraal-SA
Intussen voorspel die weerdiens ’n oorwegende warm en sonnige week vir Sentraal-Suid-Afrika met ’n kans op sporadiese donderstorms en ligte reën in sekere streke.
Vrystaters kan maksimum temperature van 30 tot 33 °C en minimums van 16 tot 18 °C verwag. Die weer bly meestal sonnig, maar donderstorms is moontlik Saterdag (10/1) en weer op 18 Januarie. Die weerdiens het ’n veldbrandwaarskuwing uitgereik weens warm, droë toestande.
Vir Noordwes word maksimum temperature van 29 tot 30 °C en minimums van 24 tot 25 °C voorspel. Die weer bly sonnig, met ligte buie en donderstorms moontlik tussen 16 en 18 Januarie. Matige oostewinde, soms gepaardgaande met rukwinde, word verwag. Die kans op reën wissel tussen 5 en 27%.
Noord-Kapenaars ervaar tans baie warm toestande, en maksimum temperature van 35 tot 40 °C en minimums van 18 tot 25 °C wag op hulle. Die weer is deurgaans sonnig en droog, met ’n klein kans op buie Saterdag en op 18 Januarie. Veldbrandtoestande sal waarskynlik heers weens die hoë temperature en lae humiditeit.
In die suide van Gauteng word temperature van 26 tot 30 °C in die dag verwag met nagtemperature van 15 tot 17 °C verwag. Die weer wissel tussen sonnig en gedeeltelik bewolk, met ligte reën en donderstorms moontlik Sondag (11/1) en ook Sondag 18 Januarie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

